Sport

Tuis/ Home Terug/ Up Atletiek Golf Hokkie Krieket Netbal Rugby Skaak Swem Tennis 

SPORT

In al ons sportaktiwiteite word massadeelname aangemoedig. Sportdae word deur die loop van die seisoen gerëel sodat elke span die geleentheid kan kry om wedstryde te speel. Die Bon Mella netballiga, geborg deur Jan en Estelle Coetzee, is byvoorbeeld vir die doel geskep.

Die sportprogram vir die eerste kwartaal begin na die Kleure Atletiekbyeenkoms.

In die daaropvolgende kwartale begin die sportprogram
OP DIE EERSTE SKOOLDAG VAN DIE KWARTAAL.

Sport Organiseerder van die skool is Alwyn Badenhorst

REËNDAG REËLINGS

Reëlings in verband met sport en ander aktiwiteite sal beskikbaar wees
op daardie betrokke dag by die volgende nommer
:
976 8115
slegs vanaf 13:00 tot 15:00

REËLINGS T.O.V. SPORTBEDRYWIGHEDE WAT LAAT KLAARMAAK

As gevolg van die geweldige toename in sport- en kultuurdeelname, is ons genoodsaak om sekere sportsoorte in sessies af te rig, wat meebring dat kinders tot redelik laat in die middag nog by die skool besig is. Hiervoor het ons die volgende reëlings getref:

Kinders wag vir hul ouers of rygeleentheid binne die hek aan die Nasorg se kant. (Veral as dit begin skemer raak.) Die Nasorg word beman tot 18:00 en daar is altyd iemand in die omgewing.

Indien die ouers, of die leerder se vervoer laat opdaag en die kind bekommerd of onrustig raak, geld die volgende reëlings:

Indien dit voor 15:30 is en dis 'n noodgeval, kan die kind na die sekretaresse se kantoor gaan om daarvandaan te bel. Die oproep word aangeteken en die geld verhaal teen R1,00 per oproep.
Indien dit na 15:30 is en die leerder het geen telefoonkaart nie en dis 'n noodgeval, mag hy/sy na die Nasorg gaan waar mev. Huebsch (nasorg bestuurderes) se selfoon gebruik mag word teen R5,00 per oproep. Die Nasorg is oop tot 18:00.

'n Telefoonhokkie wat met 'n kaartstelsel werk is tussen die Nasorgsentrum en administratiewe blok aangebring. Ons moedig ouers aan om toe te sien dat hulle kind/ers elk oor 'n telefoonkaart beskik. Kaarte is verkrygbaar gedurende eerste pouses by die finansiële sekretaresse asook by Telkom-kantore, CNA-takke en Seven Eleven Superettes.

Ons herinner u dat die skoolgebou Maandae tot Donderdae om 17:00 gesluit word, en Vrydae om 16:00.
Die duikweg sluit ook om 17:00 gedurende die week en Vrydae om 16:00.

 

REGULASIES T.O.V. OUDERDOMME IN SPORTSOORTE

Sport in skole word beheer deur USSASA. Hulle bepaal die reëls en regulasies van die verskillende sportsoorte - die skool voer slegs die beleid uit. Indien ons skool ons nie ondergeskik stel aan die reëls van genoemde sportliggaam nie, staan ons die gevaar om van enige verdere sportdeelname geskors te word wat ligas betref en ontneem ons ook ons leerders die geleentheid om provinsiaal deel te neem.

SPORTSOORTE SE REëLS, DEUR USSASA BEPAAL, IS AS VOLG:

ATLETIEK
Leerlinge neem volgens hul ouderdomme deel. Indien 'n kind byvoorbeel 10 jaar oud word in 'n betrokke jaar, wat vanaf 1 Januarie tot 31 Desember strek, neem hy/sy as 'n O/10-atleet deel. 31 Desember van die voorafgaande jaar is dus die keerdatum. 'n Leerling wat dus so "gelukkig" is om op 1 Januarie 10 jaar oud te word, neem as 'n O/10-atleet vir daardie jaar deel.

Hierdie reëling geld ook vir rugby en alle sportsoorte waar onder 'n ouderdom deelgeneem word.

HOKKIE
Laerskole akkommodeer die onder 14-spelers. Die ouderdomsgroepe vir die liga is O/10, O/11, O/12 en O/14. Indien 'n o/14-speler se spel van 'n uiters hoë standaard is, kan die Laerskool-afrigter aanbeveel dat hy/sy by 'n naburige hoërskool (waarheen die speler in Graad 8 sal gaan) in die O/14-groep opgeneem word. Die O/14-spelers wat die nodige potensiaal toon, moet noodgewonge die O/14-proewe by 'n hoërskool bywoon en mag dus nie geweier word nie. Spelers wat aan die O/13-proewe deelneem, mag slegs O/13 wees. 'n Skool se eerste hokkiespan mag dus O/14-spelers bevat. Alle O/13- en O/14-spelers word verplig om van 2001 'n USSASA ID-kaart by hulle te dra wat deur ander skole voor of na wedstryde aangevra mag word.

NETBAL
Leerlinge speel in die ouderdomsgroepe O/10, O/11, O/12 en O/13. O/14-dogters mag nie in 'n O/13A-span speel nie, maar wel in enige ander O/13-span. O/13 A-spanne neem aan kompetisies deel waar W.P.-wenners bepaal word. O/14-dogters mag nie in aanmerking kom vir die O/13 W.P.-span nie.

RUGBY
Rugby is 'n kontaksport en O/14-seuns mag in geen O/13-span speel nie en moet hul rugbyloopbaan by die O/14-span van 'n hoërskool voortsit. Slegs O/13-spelers (by implikasie ook O/12-spelers sal in aanmerking kom vir die W.P.-span. Alle seuns wat ouer is as die gemiddelde ouderdom van die graadgroep waarin hulle is, sal in die volgende ouderdomsgroep speel. O/12-rugbyspelers mag ook vir die O/13A-span oorweeg word aangesien die meeste skole slegs 'n O/11 en O/13-liga het. Skole mag vanaf 2001 op ID-kaarte aandring vir wedstryde.

SKAAK
Ouderdomme vir spanne maak nie saak nie. Die spanspelers speel in 'n span volgens rangorde en hul vaardigheidsvlak. Tydens toernooie speel die leerlinge egter wel onder hul ouderdomsgroep.

LANDLOOP
Leerlinge neem deel in hul ouderdomsgroepe. Leerlinge wat ouer as 13 jaar is, moet saam met hoërskoolleerlinge deelneem. Hoërskole akkommodeer graag hierdie atlete - die afrigter reël vir inskakeling.

SWEM
Vir kompetisiedoeleindes moet leerlinge volgens hul ouderdomme deelneem, soos uiteengesit onder Atletiek.

TENNIS
Sosiale tennis: Hierdie spelers speel nie wedstryde nie en speel dus volgens hulle graadgroepe.
Spantennis: Spelers speel in die span volgens rangorde en hul vaardigheidsvlak.
Om in die W.P.-span opgeneem te word, moet leerlinge aan proewe deelneem en word hulle volgens ouderdomme gekatagoriseer soos uiteengesit onder Atletiek.

KRIEKET
Spelers word streng volgens ouderdom in spanne ingedeel. Spelers word slegs op uitnodiging van die W.P. Krieketunie na W.P.-proewe genooi.