Skoolregulasies

Tuis/ Home Terug/ Up 

SKOOLREËLS EN DISSIPLINE

BELEID

Om onder leiding van die opvoedingsvennote, naamlik die Beheerliggaam, skoolhoof, personeel en ouers/voogde onafhanklikheid, verantwoordelikheid en lewensvaardighede te kweek wat vir groei tot volwassenheid benodig word.
Die finale toepassing van dissipline berus by die skoolhoof en Beheerliggaam.

GEDRAGSKODE

Ons doel is om elke leerder van die Laerskool Durbanville die geleentheid te bied om sy/haar volle potensiaal te ontwikkel en te bereik binne die volgende aanvaarbare waardes en norme:

RESPEK vir ons meerdere en vir mekaar, asook vir andere se geloof, kultuur en besittings.
SOSIALE WAARDES waar hoflikheid die grondslag vorm.
TROTS vir en LOJALITEIT teenoor dit wat ONS EIE is.
PLIGSGETROU en TOEGEWYD te werk.
VERANTWOORDELIKHEID te aanvaar vir ons dade.
SELFGEDISSIPLINEERD te wees.
HULPVAARDIG en MEDEDEELSAAM te wees.

REGTE VAN 'N KIND

Om in 'n veilige, skoon en geordende omgewing opvoedende onderrig te ontvang.
Om met respek, hoflikheid en billikheid behandel te word.
Om ongehinderd te werk en te leer.

SKOOL- EN SPORTDRAG

Die skooldrag is elke leerder se trots en daarom moet dit goed opgepas word en altyd netjies, skoon en gemerk wees.
Kleredragreëls soos deur die klerekomitees vasgestel, sal streng toegepas word. Vir enige afwyking hiervan, moet die skoolhoof skriftelik in kennis gestel word.
Geen waardevolle artikels soos horlosies of geld word in die kleedkamers gebêre nie.
Geen skool- of swartsoolskoene word op die tennisbane toegelaat nie.

PERSOONLIKE HIGIëNE EN HARE

Persoonlike higiëne moet te alle tye gehandhaaf word. Hare moet skoon en netjies wees.
Dogters se hare wat skouerlengte bereik, word vasgebind en haarstyle mag geensins die leerder se sig belemmer nie.
Hare moet vasgemaak word met donkerblou rekkies, bande, linte of knippies.
Buitensporige haarstyle, permanente golwings en kleuring van hare pas nie by 'n opvoedkundige instansie vir jonger kinders nie en word ten strengste verbied vir dogters sowel as seuns.
Leerders wat met permanente golwings of gekleurde hare skool toe kom, word onmiddellik huis toe gestuur en kan terugkom wanneer hul hare aan die skoolreëls voldoen.
Kulturele verskille t.o.v. haarstyle sal, binne perke, gerespekteer word.
Seuns se hare mag nie oor die skoolhemp se kraag of oor sy ore hang nie en moet netjies voorkom. Die kuif mag nie aan die wenkbroue raak nie.
Die finale diskressie ten opsigte van vreemde haarstyle, berus by die skoolhoof in oorleg met die Beheerliggaam.
Die netheid van hare geld ook vir sport- en skoolfunksies.

GRIMERING EN JUWELIERSWARE

Geen grimering word toegelaat nie.
Seuns mag slegs horlosies dra.
Dogters mag slegs horlosies en een dun, goue standaard oorring of -knopie in die onderste deel van die oorlel dra. Oorkrabbetjies waaraan versierinkies hang, is ontoelaatbaar
Goedgekeurde mediese hangertjies of kettings word toegelaat vir dogters sowel as seuns.

VERBODE ITEMS

Die volgende items is verbode en mag glad nie in leerders se besit wees nie:

Enige wapens (vuurwapens, speelgoedwapens, messe of enige ander skerp voorwerpe, stokke of kulturele wapens ens.).
Sigarette, aanstekers of vuurhoutjies.
Alkoholiese drank, dwelmmiddels, voorbehoedmiddels of pornografiese materiaal, gevaarlike speelgoed, waardevolle items, kougom, skeerroom of enige spuitkannetjies.

VEILIGHEID

Die skoolterrein moet volgens wet fisies veilig wees vir alle leerders. Enige vorm van geweld, fisies of verbaal, is verbode.
Afdreigings, intimidasie, vloektaal en molestering is ontoelaatbaar en kan tot skorsing lei.

EIENDOM

Persoonlike besittings en skooleiendom moet met respek bejeën word.
Ouers van leerders wat persoonlike besittings of skooleiendom opsetlik beskadig, is aanspreeklik vir die vervanging of herstel daarvan.

TUGMAATREëLS

Leerders wat hul skuldig maak aan enige oortreding van die skoolreëls, ontvang 'n werks- of gedragsverslag. Hierop word die oortreding aangedui en daar word van die ouer/voog verwag om dit te teken. Na drie oortredings word sodanige leerder na die graadhoof verwys. Indien enige verdere oortreding die betrokke semester begaan word, moet die leerder op 'n Saterdag, vanaf 14:00 tot 16:00 detensie sit.
Die ouer en onderwyser word gesien as opvoedingsvennote wat optree in belang van die kind. Ons doen 'n beroep op ouers se samewerking in hierdie verband.
Ouers kan met Graadhoofde in gesprek tree indien nodig. Herhaalde en ernstige oortredings word na die skoolhoof, ouers en Beheer-liggaam verwys.
Waar nodig sal 'n leerder deur die skoolhoof en/of onderwyser leiding gegee word om sy/haar onaanvaarbare gedrag te verbeter. Ouers en voogde vorm altyd deel van hierdie proses.

GEDRAGSREëLS

Leerders moet die skool tydens die vasgestelde skoolure stiptelik bywoon. 'n Leerder mag nie gedurende skoolure sonder die skoolhoof se verlof uit 'n klas afwesig wees of die skoolterrein verlaat nie.
Terwyl 'n leerder onder die skool se toesig is, mag hy/sy nie 'n ander leerder se liggaamlike welsyn benadeel of in gevaar stel nie.
Geen leerder mag by die skool alkoholiese drank of dwelmmiddels gebruik nie. Hierdie items, tesame met ongewenste leesmateriaal, word glad nie op die skoolterrein of ander terrein wat deur die skool gebruik word vir opvoedkundige doeleindes, toegelaat nie.
Skooleiendom of persoonlike eiendom mag nie beskadig, ontsier of besoedel word nie.
Daar word nie binne die skoolterrein met fietse of skaatsplanke gery nie. Fietse word gestoot tot by die fietsrakke. Fietse moet te alle tye gesluit wees en 'n beskermende helm word vir fietsryers aanbeveel
Geen leerder word voor 07:55, of gedurende pouses binne die skoolgebou toegelaat nie, behalwe as dit reën of 'n onderwyser verlof daartoe gee.
Hardloop of speel binne die skoolgebou, gange of op stoepe is streng verbode. Balspele word slegs op spesifiek afgebakende gebiede toegelaat. Niemand mag op die skuinswalle of in die blomakkers speel nie. Gevaarlike en rowwe speletjies, asook speel met gevaarlike voorwerpe, word verbied.
Leerders moet dadelik op klokke reageer sodat flinke beweging na klasse kan geskied. Onderdak of in die skoolgebou mag niemand hardloop of skree nie. Leerders beweeg altyd ordelik, netjies en stil binne die skoolgebou. Indien dit gedurende pouses reën, mag leerders in die gange sit of staan, maar nie speel nie.
Klaskamers, gange, toilette en terreine moet altyd sindelik en netjies gehou word.
Geen leerders word in die saal en op die verhoog toegelaat sonder toesig of die verlof van 'n onderwyser nie. Daar word nie in die saal geëet nie.
Geen leerder mag hom/haar aan enige vorm van wangedrag teenoor die skoolhoof, leerkragte, administratiewe personeel, skoonmaakpersoneel, ouers van die skool of besoekers aan die skool, skuldig maak nie.
Leerders se gedrag buite die skoolterrein selfs gedurende vakansies, moet altyd die skool se naam tot eer strek.