Skakeling

Tuis/ Home Terug/ Up 

SKAKELING TUSSEN OUERS EN SKOOL

  1. OMSENDBRIEWE
    Omsendbriewe bevat belangrike inligting wat alleenlik daarop gemik is om u as ouer aangaande ons skool se reëlings en bedrywighede ingelig te hou. Om misverstande te voorkom is dit dus uiters belangrik dat u hierdie omsendbriewe deeglik sal bestudeer. Elke leerder word voorsien van 'n koevert met 'n kontrolevorm voorop. Omsendbriewe word in hierdie koevert geplaas en huis toe gestuur vir u kennisname. Die kontrolevorm word geteken in ooreenstemming met die nommer wat bo-aan die omsendbrief
    verskyn. Ons beveel aan dat u die omsendbriewe in 'n lêer plaas vir latere verwysing.

  2. TELEFONIESE KONTAK
    Die skool beskik oor vier telefoonlyne. Indien u met 'n leerkrag telefonies kontak wil maak is u welkom om dit voor skool, gedurende pouses (10:35 - 10:55 en 12:50 - 13:02) of na skool te doen. Lyne is egter, veral gedurende pouses, baie beset omdat personeel ook daardie tye gebruik om self foonoproepe te maak. U kan egter enige tyd van die dag 'n boodskap met 'n kontaknommer by die sekretaresse laat. Die betrokke leerkrag sal u so spoedig moontlik terugskakel. Neem egter kennis dat leerkragte slegs in absolute noodgevalle gedurende klastyd kan skakel.

    Die telefoonsisteem beskik oor 'n outomatiese antwoordsisteem wat, indien die telefoon nie binne drie luie beantwoord word nie, u sal meedeel dat u direk met: (1) die finansiële sekretaresse, (3) reëndag reëlings kan verneem of kan aanhou.

  3. STROOIBILJETTE
    Alhoewel daar nie vir strooibiljette geteken word nie, is dit 'n ewe belangrike kommunikasiemedium. Dit dien meestal om u op die korttermyn te herinner aan aangeleenthede rakende die skool wat binne 'n dag of twee sal plaasvind.

  4. REËLINGS T.O.V. SKOOLBEDRYWIGHEDE WAT LAAT KLAARMAAK

    As gevolg van die geweldige toename in sport- en kultuurdeelname, is ons genoodsaak om sekere sportsoorte in sessies af te rig, wat meebring dat kinders tot redelik laat in die middag nog by die skool besig is. Hiervoor het ons die volgende reëlings getref:

    Kinders wag vir hul ouers of rygeleentheid binne die hek aan die Nasorg se kant. (Veral as dit begin skemer raak.) Die Nasorg word beman tot 17:30 en daar is altyd iemand in die omgewing.

    Indien die ouers, of die leerder se vervoer laat opdaag en die kind bekommerd of onrustig raak, geld die volgende reëlings:

    Indien dit voor 15:30 is en dis 'n noodgeval, kan die kind na die sekretaresse se kantoor gaan om daarvandaan te bel. Die oproep word aangeteken en die geld verhaal teen R1,00 per oproep.
    Indien dit na 15:30 is en die leerder het geen telefoonkaart nie en dis 'n noodgeval, mag hy/sy na die Nasorg gaan waar mev. Huebsch se selfoon gebruik mag word teen R5,00 per oproep. Die Nasorg is oop tot 17:30.

    'n Telefoonhokkie wat met 'n kaartstelsel werk is tussen die Nasorgsentrum en administratiewe blok aangebring. Ons moedig ouers aan om toe te sien dat hulle kind/ers elk oor 'n telefoonkaart beskik. Kaarte is verkrygbaar gedurende eerste pouses by die finansiële sekretaresse asook by Telkom-kantore, CNA-takke en Seven Eleven Superettes.

    Ons herinner u dat die skoolgebou Maandae tot Donderdae om 17:00 gesluit word, en Vrydae om 16:00.
    Die duikweg sluit ook om 17:00 gedurende die week en Vrydae om 16:00.