Omsendbrief 6

Back Next

Afrikaans
Akademie
Borge
Geselskamer
Klerebank
Jaarprogram
Leerderkomitee
Nasorg
Ons Skool
Ouergids
Personeel
Skoolkwartale 2010
Sport
Durbie Aksie
Kunsklub
Pa en seun

Omsendbrief 6/2010                                                                               21 Januarie 2010

Geagte Ouer

 

KURRIKULUM

 

Aan die begin van die akademiese jaar wil ons u as mede-opvoeder ingelig hou/betrek by u kind se onderrig- en leerproses.  Ter insae verskaf ons dus die volgende inligting rakende die kurrikulum:

 

1.                   BESTUUR VAN KURRIKULUM

1.1               Professionele bestuurder

Die professionele bestuur van die skool ressorteer onder die skoolhoof, mnr. J.C. Swart.  Die skoolhoof delegeer sekere aksies en verantwoordelikhede aan die kurrikulumleier, mev. L. Bester, en vir elke leerarea is daar ‘n leerareahoof aangestel.

 

1.2               Kurrikulumleier

Die kurrikulumleier fasiliteer en rig alle kurrikulumontwikkeling wat plaasvind.  Die kurrikulumleier poog om op hoogte te bly van enige vernuwing/verandering en woon gereeld vergaderings by.  N.a.v. behoeftes/probleme wat geïdentifiseer word, word daar kwartaalliks ‘n kurrikulumkennisgewing saamgestel wat hierdie sake aanspreek en aan alle onderwysers/onderwyseresse deurgegee word.

 

1.3               Leerareahoofde/-verantwoordelikes

Die leerareahoofde oefen toesig en beheer uit en waak sodoende oor die standaard van die leerarea.  Vernuwende denke en voortdurende aanpassings vorm deel van hierdie proses.  In elke graad is daar ‘n leerareaverantwoordelike vir elke leerarea.  Hierdie persoon is verantwoordelik vir die opstel van assesseringsplanne, assesseringstake en assesseringsinstrumente.  Dit word dan aan die res van die graadgroep versprei.

 

1.4               Tutors en senior leerkragte

Ten einde nuwe leerkragte te begelei, is daar ook tutors en meester-/senior onderwysers aangestel.  Hierdie leerkragte beskik elkeen oor ‘n duidelike taakomskrywing.  Hierdie leerkragte help ook met kontrole en beheer oor ander leerkragte.

 

2.                   LEERONDERSTEUNING

 

2.1               Leerondersteuner

Die leerondersteuner, mev. N. bekker, identifiseer saam met die klasonderwyser/es moontlike leerhindernisse.  Daarna word intervensieprogramme vir elke leerder opgestel.  Die leerondersteuner verskaf hulpverlening, veral d.m.v. rekenaar (lees- en wiskunde-program).  Sy kan ook met die volgende kundiges skakel:

  • Skoolsielkundige
  • Privaatsielkundiges
  • Maatskaplike werksters
  • Arbeidsterapeute
  • Fasiliteerder OBOS
  • Skool mediese dienste
  • Berader by skool

Die leerondersteuner skakel ook gereeld met leerkragte i.v.m. vordering en plasing in spesiale skole.  Sy reël OOS-vergaderings (onderwyserhulpspan) en doen alle administrasie.

 

2.2               Didaktiese hulp

Didaktiese hulpklasse in Huistaal en Wiskunde word gratis op sekere middae aangebied as deel van die skool se buitemuurse spyskaart.

 

3.                   ASSESSERING

Uitkomsgebaseerde onderrig vereis dat daar verskeie tipes assessering plaasvind.  Die jaar word gewoonlik afgeskop met basislynassesserings ten einde die vermoëns van die leerders te bepaal.  Eksterne diagnostiese assesserings vind gedurende November in Graad 6 plaas.  Die doel daarvan is om die geletterdheids- en gesyferdheidsvlakke van hierdie groep te bepaal.  Die uitslae word deur die WKOD ontleed en indien nodig, word intervensies aangegaan.  Daar word van alle skole verwag om geletterdheids- en gesyferdheidsplanne te hê wat gebaseer is op die skool se uitslae.  Gedurende die vierde kwartaal word daar ook nasionale assesseringstoetse (ANA) in Huistaal en Wiskunde (Graad 4 tot 6) afgelê.  Die uitslae hiervan word intern gebruik vir moontlike aanpassings en opvolgaksies.

 

3.1               Formatiewe assessering

Hierdie skriftelike tipe assessering word gebruik om kennisaspekte vas te lê, vaardighede aan te leer en in te oefen, asook waardes/houdings te vestig.  Sodanige assesseringsaktiwiteite kan deur verskillende partye geassesseer word, o.a. die leerkrag, groepe, maats of die leerder self.  Die bewyse van die leerder se formatiewe assessering word vervat in die portefeulje ter insae vir u as ouer.  Dit is dus die sogenaamde module wat bestaan uit die werkskedule (inhoudsopgawe) en werkvelle.  Die formatiewe assesseringsresultate word nie opgeteken nie, aangesien dit gesien word as voorbereiding vir die summatiewe assessering wat volg.

 

3.2               Summatiewe assessering (formele)

Met die uitsondering van mondelinge aanbiedings, rolspel, demonstrasies, ens. word alle summatiewe assesseringsaktiwiteite skriftelik onder gekontroleerde toestande in die klaskamer gedoen.  Hierdie tipe assessering behels die assessering van die “eindproduk” d.m.v. kodes/punte en word uiteengesit op die kwartaallikse assesseringsplan per leerarea.  Dit dui al die assesseringsaktiwiteite (bv. toets, navorsing, tutoriaal, ens.) en –instrumente aan wat gebruik is om die finale punt per leerarea te bereken.

 

3.3               Deursigtigheid

Alle formele summatiewe assesseringsaktiwiteite word in die klaskamer deur die leerkrag bewaar, aangesien dit gebruik word vir promosie- en bevorderingsdoeleindes.  Ter wille van deursigtigheid skep die skool twee geleenthede waartydens u die formele assesseringstake kan kom besigtig.

3.4               Informele besigtiging

Gedurende die eerste en tweede kwartaal word daar een middag opsy gesit waartydens ouers na formele summatiewe assesseringstake van leerders voor die toetsreeks/eksamen kan kom kyk.

 

Die datums is as volg:

 

            Kwartaal 1:  23 Februarie 2010    (16:00-18:00)

            Kwartaal 2:  17 Mei 2010            (16:00-18:00) - Slegs Gr. 5E

                                18 Mei 2010          (16:00-18:00) - Alle ander graadgroepe insluitend Gr. 5A

 

Gedurende die derde kwartaal kan besigtiging op aanvraag geskied.  U is welkom om u kind/ers tydens hierdie geleentheid saam te bring.  Die assesseringsinstrumente wat gebruik is om te assesseer, is ook beskikbaar, hetsy dit ‘n memorandum, rubriek of kontrolelys is.  Die leerkrag is vir navrae beskikbaar, maar geen formele besprekings/afsprake word gemaak nie.  Formele assesseringstake (toetse en eksamens uitgesluit) assesseer selde dieselfde leeruitkomste en assesseringstandaarde wat in toetse/eksamens geassesseer word.

 

3.5               Formele ouerbesoeke

Gedurende die tweede en derde kwartaal word formele ouerbesoeke geplot.  Tydens hierdie geleentheid maak u ‘n afspraak met die betrokke leerkrag ten einde u kind/ers se akademiese vordering te bespreek en ouers kan ook tydens hierdie besoeke die formele assesseringsaktiwiteite besigtig.  Ouers ontvang die korrespondensie rakende hierdie aangeleentheid gedurende die eerste week van kwartaal 2 en 3.

 

3.6               Assesseringsprogram (Bylae A)

As deel van die assesseringsbeleid ontvang u kwartaalliks ‘n tentatiewe program van die formele summatiewe assesserings wat gedurende die betrokke kwartaal gaan plaasvind.  Hierdie program is tentatief, aangesien daar heelwat veranderlikes is wat hierdie beplanning kan beïnvloed, bv. afwesigheid van leerders, leerhindernisse by leerders, ens.

 

3.7               Rapporte en assesseringsplanne

Vier keer per jaar word formele rapporte en assesseringsplanne aan ouers gestuur.  Die rapport dui die finale punt per leerarea aan en word op ‘n briefhoof gedruk.  Hierdie rapport word vergesel van nege assesseringsplanne, een per leerarea.  Die assesseringsplanne gee ‘n duidelike uiteensetting van die assesseringstake, assesseringstandaarde en instrumente wat gebruik is om die finale punt te bereken.  Dit kan ook vergesel word van leerkragkommentaar rakende die leerder se vordering en vaardighede.

 

4.                   HUISWERKBELEID (Bylae B)

Die skool beskik oor ‘n huiswerkbeleid wat jaarliks aan ouers/leerders gestuur word.  Ons versoek u om dit deeglik deur te lees en met u kind/ers te bespreek.

 

TEN SLOTTE

Ons versoek u as opvoedingsvennote om u kind/ers te alle tye positief te motiveer, te ondersteun en realistiese verwagtinge van hulle te koester ten einde hulle in staat te stel om hulle volle potensiaal te verwesenlik.

 

Kurrikulumgroete

 

(Mev.) L. Bester                                                             J.C. Swart

KURRIKULUMLEIER                                                     SKOOLHOOF