Omsendbrief 5

Back Next

Afrikaans
Akademie
Borge
Geselskamer
Klerebank
Jaarprogram
Leerderkomitee
Nasorg
Ons Skool
Ouergids
Personeel
Skoolkwartale 2010
Sport
Durbie Aksie
Kunsklub
Pa en seun

Omsendbrief 5/2010                                                                               20 Januarie 2010

Geagte Ouer

 

ALGEMENE INLIGTING : SPORT

Die nuwe jaar is reeds in volle swang en die opgewondenheid onder die leerders vir die massa atletiekbyeenkoms bereik breekpunt.

Ons het dit goedgedink om algemene inligting rakende sport aan u deur te gee om die vrae wat op u hart is, te beantwoord.

AFRIGTERS

Ons uitgangspunt is om massadeelname aan te moedig, want ons besef die belangrikheid vir kinders om aan sport deel te neem, nie net vir die fisiese ontwikkeling nie, maar ook vir die sosiale ontwikkeling, is dit uiters belangrik.  Laerskool Durbanville roem hom boonop op sy holisme.

Aangesien ons slegs ‘n beperkte aantal personeellede het wat as afrigters vir die spanne kan dien, word ons genoodsaak om van buite-afrigters gebruik te maak om ons met die afrigting van al die spanne in die onderskeie sportkodes te help.  Ons doelwit is om vir elke span ‘n afrigter te kry en ons doen baie moeite om die geskikste kandidate te bekom.  Ons spyskaart is omvangryk en kan nie slegs deur personeel gediens word nie.

Ons wens is dat u u kind sal aanmoedig om ‘n sport te beoefen.

SPORTSOORTE

Weens ‘n gebrek aan fisiese fasiliteite, die feit dat ons nie wil dupliseer nie en die baie mooi verhouding wat ons met die dorpsklubs van die verskillende sportsoorte het, is besluit om nie die sportspyskaart wat ons tans het, verder uit te brei nie.  Krieketwedstryde vind bv. slegs in die week plaas aangesien die dorpsklub Saterdae hul wedstryde speel.  Ons sportspyskaart wat tans deur ons aangebied word, is:  hokkie (seuns en dogters);  netbal;  krieket;  tennis;  rugby;  skaak;  gholf;  swem;  landloop en atletiek.  Alle buitesporte kry erkenning binne die skool vir prestasies behaal.  Ons wens is dat u u kind sal aanmoedig om ‘n sport te beoefen.

WEDSTRYDE

Indien u kind ‘n wedstryd vir sy/haar span moet speel, sal hy/sy ± 2 dae voor die wedstryddag ‘n wedstrydbriefie van sy afrigter ontvang.  Indien hy/sy nie so ‘n briefie kry nie, is hy/sy nie vir daardie wedstryd vir die span gekies nie.  As die afrigter ‘n buite-afrigter is, sal so ‘n wedstrydbriefie deur mnr. Francois Roux (sportorganiseerder) aan hom/haar gegee word.

U ontvang aan die begin van die seisoen die datums waarop die wedstryde gaan plaasvind.  Dit is ook op die webblad www.durbieland.com beskikbaar.  Ons rig ‘n versoek tot u dat u nie naweke waarop u kind aan ‘n wedstryd moet deelneem, sal weggaan vir die naweek nie.

VERVOER

Algemeen

Ons is baie trots daarop om te roem dat ons dit nog nooit nodig gehad het om ‘n bus te huur om leerders na wedstryde te vervoer nie.  Ons wil ‘n beroep op u doen om u kind te ondersteun deur bywoning van sy/haar wedstryde.  Dit skep ‘n aangename atmosfeer.

Nadat die leerders die wedstrydbriefies ontvang het, word almal die volgende dag na die saal laat kom waar dan gekontroleer word watter kind nie vervoer het nie en dan sal die afrigter verdere reëlings tref.  ‘n Kind se plek in ‘n span sal nie benadeel word omdat ‘n ouer nie vervoer kan verskaf nie.

Swem

Indien u kind nie vervoer na die swembad by die Hoërskool het nie, kan u self met ‘n vriend/in reël om u kind te neem of u kan die swemorganiseerder vra om vervoer vir u kind te reël saam met een van die menige gewillige ouers.  Ons besit ‘n derde aandeel in die swembad by die Hoërskool Durbanville.

Hokkie

Ons bied ons leerders weekliks die geleentheid om op ‘n rotasiebasis ‘n oefening op die “astro”-baan by die Hoërskool Fairmont te hê.  Die 0/14A-spanne sal elke week een gras en een “astro”-baanoefening hê.  Indien u nie self u kind na die Hoërskool Fairmont kan vervoer nie, vra ons dat u onderling met ander ouers in die span sal reël.

Sportprestasies 

Ons het in 2009 heelwat sportprestasies gehad wat ongesien verbygegaan het.  Ons wil u versoek dat u getrou u kind se prestasies aan die sportorganiseerder sal deurgee (epos : sport@durbieland.com / faks : (021) 976-7160).  Ons wil hierdie jaar poog om alle noemenswaardige prestasies op die webblad asook die skoolkummunikeerder aan ouers deur te gee.  Om dit suksesvol te doen, het ons u samewerking in hierdie verband baie nodig.

Kansellasie van oefeninge en wedstryde

Kansellasie word sover moontlik beperk.  Die Laerskool Durbanville kanselleer nooit ‘n wedstryd of oefening nie, tensy weersomstandighede dit noodsaak.  Indien ‘n oefening of wedstryd gekanselleer word, sal u per sms in kennis gestel word. 

SMS-STELSEL

Die sms-stelsel het verlede jaar baie goed gewerk.  Ons beplan om die stelsel verder te verfyn met die skep van groepe, sodat sms’e slegs aan die betrokke leerders se ouers gestuur word.  Die stelsel maak slegs vir een ouer se selfoonnommer voorsiening en daarom wil ons u versoek om die korrekte persoon se nommer te verskaf.  Sms’e word op reëndae om ± 13:00 uitgestuur.

Durbanville-groete

A. Winterbach                                                               J.C. Swart

DEPARTEMENTSHOOF : SPORT                                  SKOOLHOOF