Omsendbrief 3

Tuis/ Home Terug/ Up 

 Omsendbrief  3/2008                                                                                          21 Januarie 2008

 

 

Geagte Ouer

 

 

SKAKELING TUSSEN OUERS EN SKOOL

 

 

Dit is vir die personeel van Laerskool Durbanville baie belangrik dat die ouers ten alle tye ingelig sal wees aangaande aktiwiteite wat deur die skool aangebied word, of waarby die leerders en/of ouers kan baat.  Om dié rede is kommunikasiekanale van primêre belang.

 

Ons gee graag die volgende reëlings aan u deur:

 

1.         OMSENDBRIEWE

 

            Ter wille van effektiewe kommunikasie sal omsendbriewe in die toekoms per epos aan ouers gestuur word.  Dit verseker dat ouers dit direk ontvang en neem die onus van die leerders af.  Indien u egter verkies om steeds die omsendbriewe in harde kopie te ontvang, sal dit aan u voorsien word.

 

            Dit is raadsaam om die omsendbriewe digitaal of in harde kopie vir latere verwysing te bewaar, aangesien sommige briewe betrekking het op aktiwiteite wat oor ‘n lang tydperk plaasvind.

 

2.         STROOIBILJETTE

 

            Alhoewel daar nie vir die biljette geteken word nie, is dit 'n ewe belangrike kommunikasiemedium en sal ons dit waardeer indien u daarop sal ag slaan.  Dit dien meestal om u op die korttermyn te herinner aan aangeleenthede rakende die skool wat binne 'n dag of twee sal plaasvind.

 

3.         TELEFONIESE KONTAK

 

            Die skool beskik oor 5 telefoonlyne.  U is baie welkom om met die onderwysers telefonies kontak te maak gedurende pouses (10:30 - 10:50 en 12:46 - 13:01) en na skool.  Gedurende hierdie tye is die telefoonlyne egter soms almal beset omdat daar dan baie oproepe na die skool gemaak word.  U kan egter enige tyd van die dag 'n boodskap met 'n kontaknommer by die sekretaresse laat.  Die betrokke onderwyser/es sal u so spoedig moontlik terugskakel om aan die saak aandag te gee.  U moet egter daarop let dat onderwysers slegs in absolute noodgevalle gedurende klastyd kan skakel.  Die meeste kollegas het geen vryperiodes per dag nie.  Wees dus asseblief geduldig.

 

            Indien u in die geval van slegte weer wil weet of die sportprogram nog voortgaan soos beplan is, skakel u die skool se nommer (na 13:00) en benut die sportopsie (nr. 4) waar mnr. F. Roux (sportorganiseerder), of ‘n antwoordmasjien die reëlings vir die middag sal deurgee.

 

 

4.                   SKAKELING INSAKE DISSIPLINêRE- EN AKADEMIESE AANGELEENTHEDE

                                               

U kan met die graadhoof skakel insake akademiese aangeleenthede.  Die graadhoofde is:

 

                        Graad 4:            Mev. A. van Dyk

                        Graad 5:            Mev. A. van der Westhuizen

                        Graad 6:            Mev. K. Vivier

                        Graad 7:            Mnr. C. Ackermann

 

Vanaf 2008 sal die graad weekliks onder leiding van ‘n departementshoof vergader om dissiplinêre probleme aan te spreek.  U sal dus voortspruitend uit hierdie vergadering ingelig word indien daar op dissiplinêre gebied probleme by u kind bespeur word.

 

5.         REëLINGS T.O.V. SKOOLBEDRYWIGHEDE WAT LAAT KLAARMAAK  

 

As gevolg van die geweldige toename in sport- en kultuurdeelname, is ons genoodsaak om sekere sportsoorte in sessies af te rig, wat meebring dat kinders tot redelik laat in die middag nog by die skool besig is.  Indien leerders laat afgehaal word en alleen in Weyerslaan moet wag, stel ons voor dat hul liefs by die Nasorg wag (veral as dit skemer raak).

 

-          Die Nasorg word beman tot 17:30 en daar is altyd iemand in die omgewing.  Let wel dat die Nasorg in die opslaangeboue aan Durbanweg se kant (naby die duikweg) is.

 

Indien die ouers, of die leerling se vervoer laat opdaag en die kind bekommerd of onrustig raak, geld die volgende reëlings:

 

-          As dit voor 15:30 is en dis ‘n noodgeval, kan die kind na die sekretaresse se kantoor gaan om daarvandaan te bel (die oproep word aangeteken en die geld verhaal).

 

-          As dit na 15:30 is en die leerder het geen belgeld of ‘n telefoonkaart nie en dis ‘n noodgeval, mag hy/sy na die Nasorg gaan en die Nasorg-telefoon gebruik.  Die Nasorg is oop tot 17:30 (mev. Swart teken die oproep aan en verhaal die geld).

 

-          Die leerders kan ook van die telefoonhokkie af bel, wat met ‘n kaartstelsel werk.  Ons sal dit waardeer indien alle ouers sal toesien dat hulle kind/ers elk oor ‘n telefoonkaart beskik.  Dit is verkrygbaar by die poskantoor, CNA, Friendly Grocer, asook gedurende eerste pouses by die skool se finansiële kantoor.

 

-          Ons herinner u dat die skool middae om 17:00 gesluit word (Vrydae om 16:00).

 

-          Die duikweg sluit om 17:00 gedurende die week en Vrydae om 16:00.

 

Bostaande reëlings is noodmaatreëls vir indien daar ‘n misverstand oor vervoerreëlings is, of omdat u as ouer deur onvoorsiene omstandighede, soos bv. ‘n verkeersknoop, opgehou word.  Ons moedig leerlinge aan om die telefoonkaart so ver moontlik te gebruik.

 

Ons doen egter ‘n dringende beroep op u om seker te maak dat u of u kind se geleentheid betyds sal wees, want die kinders raak baie gou bekommerd as hulle te lank moet wag.

 

 

Vriendelik die uwe

 

 

 

 

J.C. Swart

SKOOLHOOF

 

OMSENDBRIEWE

 

Ek, ouer van …………………………………… in Gr. ……….A……. verkies om omsendbriewe deur epos te ontvang / om epos per hand te ontvang.  (Onderstreep die toepaslike.)

 

Stuur asseblief ‘n epos met die onderwerp “tuis epos” na gerhard@durbanville-primary.com indien u die omsendbriewe per epos wil ontvang.

 

 

……………………………………………….             ………………………………………………

HANDTEKENING : OUER/VOOG                                    DATUM