|
Omsendbrief 24/2010
6 Mei 2010
Geagte
Ouer
REGULASIES T.O.V. OUDERDOMME
IN SPORTSOORTE
Ouers besluit aan die begin van hul kinders se skoolloopbaan wanneer
hulle hul kinders skool toe gaan stuur, veral as hul laat in die jaar
verjaar. Op advies van kundiges word sodanige kinders baie maal ‘n jaar
later skool toe gestuur. As gevolg van sodanige leerlinge se
verjaardagdatum, het dit dan tot gevolg dat hul saam met kinders wat in
‘n graad hoër is, moet sport beoefen. Sommige leerlinge voel ontuis en
dis vir hul ‘n negatiewe ervaring.
Die skool
verstaan die dilemma waarin die kind verkeer en ons simpatie lê werklik
by die kind. Boonop kan verskeie argumente t.o.v. emosionele
ontwikkeling, ens. gevoer word en sou ons graag elke geval op meriete
wou beoordeel, maar wat sport betref is ons onder die beheer van DISCOC,
die nasionale sportliggaam wat alle skoolsportsoorte beheer. Hulle
bepaal die reëls en regulasies van die verskillende sportsoorte – die
skool voer slegs die beleid uit. Indien ons skool ons nie ondergeskik
stel aan die reëls van DISCOC nie, staan ons die gevaar om van enige
verdere sportdeelname geskors te word wat ligas betref en ontneem ons
ook ons leerlinge die geleenthede om provinsiaal deel te neem.
Sportsoorte se reëls, deur DISCOC bepaal, is as volg:
HOKKIE
Beginners:
Hierdie leerlinge speel nie wedstryde nie, slegs vaardigheidsoefeninge
word gedoen.
Ouderdomsgroepe:
0/10, 0/11, 0/12 en 0/14. Twee spanne per ouderdomsgroep. ‘n Besondere
talentvolle leerder mag, volgens die diskresie van die afrigter, in ‘n
hoër ouderdomsgroep speel, mits daardie leerder in die A-span opgeneem
word.
Proewe:
Provinsiale- en streekproewe vind slegs binne ouderdomsgroepe plaas.
Leerders moet kan bewys dat hul in spesifieke ouderdomsgroep val ten
tyde van die toernooi. Daar is slegs 0/14-proewe. Volgens WP-voorskrifte
word die top 3 leerders uit ‘n span (A-span) deur die afrigter
geïdentifiseer en vir proewe gestuur.
NETBAL
Leerders
speel in ouderdomsgroepe 0/10, 0/11, 0/12 en 0/13. 0/10-dogters wat in
Gr. 3 in die Voorbereidingskool is, speel by die Laerskool. Gr.
7-dogters wat 0/14 is, speel by die Hoërskool.
Wedstryde:
Dogters speel in eie ouderdomsgroepe.
Toernooie:
Dogters speel in eie ouderdomsgroep.
WP-proewe:
Dogters speel in eie ouderdomsgroepe, tensy anders deur keurders
aangevra (indien dit bv. ‘n briljante 0/12-dogter is om in 0/13 te speel).
Die skool sal dan besluit of dit in die dogter se belang is om in ‘n
hoër ouderdomsgroep te speel.

RUGBY
Spanrugby:
Leerlinge neem volgens hul ouderdomme deel. Indien ‘n
kind bv. 10 jaar oud word in ‘n betrokke jaar, wat vanaf 1 Januarie tot
31 Desember strek, neem hy as ‘n 0/10-rugbyspeler deel.
Hier het
ons met ‘n kontaksport te doen en 0/14-seuns mag in geen
0/13-span speel nie en moet hul rugbyloopbaan by die 0/14-span van ‘n
hoërskool voortsit.
Toernooie:
Word volgens ouderdomsgroepe gespeel. 0/12-rugbyspelers mag ook vir die
0/13A-groep oorweeg word. Indien die 0/12-speler na die 0/13-groep
opgetrek word, moet hy oor genoeg vaardighede beskik om in die
0/13A-span opgeneem te word. Indien so ‘n speler opgetrek word, moet hy
daar bly vir die seisoen.
Proewe:
Slegs 0/13-spelers sal in aanmerking kom vir die 0/13-WP-span.
0/12-spelers sal slegs vir die 0/12-WP-span in aanmerking kan kom.
SKAAK
Ouderdomme
vir spanne
maak nie saak nie. Die spanspelers speel in ‘n span volgens rangorde en
hul vaardigheidsvlak. Tydens toernooie speel die leerlinge egter wel
onder hul ouderdomsgroep.
LANDLOOP
Leerlinge
neem deel in hul ouderdomsgroepe (sien Atletiek). Leerlinge wat ouer as
13 jaar is, sal in hul ouderdomsgroep in die laerskoolliga geakkommodeer
word.
SWEM
Beginners,
swemgroep en swemspan: Leerders word ongeag hulle ouderdom volgens hulle
swemvermoë in die verskillende oefengroepe opgedeel.
Galas:
Word volgens ouderdomme geswem – 0/10, 0/11, 0/12 en 0/14.
Proewe:
Word volgens ouderdomme geswem. 0/14-leerders moet egter by die
hoërskool-proewe inskakel.
ATLETIEK
Wat
beteken “atlete neem volgens hul ouderdomsgroepe deel?”
Indien ‘n kind bv. 10 jaar oud word in ‘n betrokke jaar, wat vanaf 1
Januarie tot 31 Desember strek, neem hy/sy as ‘n 0/10-atleet deel of
soos hul deesdae sê: Atlete 10 jaar. 31 Desember van die voorafgaande
jaar is dus die keerdatum. As ‘n atleet dus so “gelukkig” is om bv. op
1 Januarie te verjaar en hy het vanjaar op 1 Januarie 10 geword, neem hy
as ‘n 0/10-atleet deel. 0/14-atlete sal slegs betrek word by
byeenkomste waar die program vir hulle voorsiening maak.
Sosiaal :
Massabyeenkoms: Atlete neem volgens ouderdomsgroepe 0/10, 0/11, 0/12 en 0/13 deel.
Daar is ook ‘n ope-afdeling wat beteken dat atlete ouer as 0/13
in daardie groep mag deelneem. Daar is net sekere items vir die ope-atlete
en nie alle items soos vir die 0/13-groep nie. Indien ‘n ope-atleet
uitsonderlik presteer, kan hy/sy by die hoërskool in daardie
ouderdomsgroep deelneem, bv. 0/14. Dit vind slegs plaas n.a.v. die
atletiek- en sportorganiseerders se diskresie en kwalifiserende tye,
hoogtes en afstande speel ook ‘n rol. Indien daar ‘n besondere goeie
0/10-atleet in die Voorbereidingskool Durbanville is, mag daardie atleet
op aanbeveling van hul atletiekorganiseerder en sportbestuurder aan ons
massa-atletiekbyeenkoms deelneem, afhangende van die tye. Dit
gebeur slegs in uitsonderlike gevalle. Die massabyeenkoms is die eerste
sifting vir die kringbyeenkomste van Metropool Noord.
Uitnodigingsbyeenkomste:
Atlete neem deel volgens ouderdomsgroepe en volgens die spesifieke
program se items. Op sulke byeenkomste word nie alle items vir alle
ouderdomsgroepe aangebied nie.
WP-proewe
: Kringbyeenkomste:
Deelname
aan hierdie byeenkomste is met die doel voor oë om WP-kleure of
Wes-Kaap-kleure te verwerf. Atlete neem volgens hul ouderdomsgroep deel
en moet ook altyd ‘n gesertifiseerde geboortesertifikaat met
ID-foto saam met inskrywing voor deelname inhandig. Dit dien as
bewys dat atlete in die regte ouderdom kompeteer. Atlete moet egter
kwalifiserende plekke, hoogte, afstand of tye behaal om gekies te word
vir die volgende byeenkoms.
TENNIS
Sosiale
tennis:
Hierdie spelers speel nie wedstryde nie en oefen dus volgens
graadgroepe.
Spantennis:
Die ouderdom maak nie saak nie. Die spelers speel volgens hul
vaardigheidsvlak en die rangorde. Selfs 0/14-spelers mag ook vir die
span speel.
Toernooie:
WP- en SATA-toernooie word volgens ouderdomsgroepe gespeel. ‘n Speler
mag wel in ‘n hoër/ouer ouderdomsgroep inskryf. Toernooie deur ander
laerskole aangebied, word gewoonlik 0/13-toernooie genoem, maar hier
word gewoonlik by die betrokke skool toestemming verkry dat 0/14-spelers
mag deelneem, solank hul ingeskryf is by hul laerskool.
Proewe:
Om in die WP-span opgeneem te word, moet spelers aan proewe deelneem.
Op laerskoolvlak word daar in 2 ouerdomsgroepe meegeding : 0/11 en
0/13. Hier mag 0/14-spelers dus nie deelneem nie. Vir die
0/11-afdeling mag jonger spelers ook deelneem indien hul oor die
vaardigheid beskik. By die 0/13-afdeling mag 0/12-spelers ook verkies
word indien hul op die verlangde standaard is.
KRIEKET
Sosiale
krieket:
As gevolg van die geweldige groei van krieket, sal daar van volgende
jaar af ‘n moontlike beginnerskrieketspan wees.
Spankrieket:
Elke ouderdomsgroep word streng volgens ouderdomsgroepe ingedeel.
Indien ‘n seun 12 jaar oud is en hy is baie talentvol, mag hy
soms na die 0/13-groep opgetrek word, maar slegs na streng maatreëls
deur die skool gevolg is.
Toernooie:
Die 0/13’s neem aan ‘n 0/13-toernooi deel en die 0/11’s aan ‘n
0/11-toernooi. Alle seuns moet in hulle ouderdomsgroepe aan ‘n toernooi
deelneem.
Proewe:
Om in die WP-span opgeneem te word, word leerders aan proewe deelneem.
Ons het 0/11- en 0/13-krieketproewe. Geen 0/14-spelers nie. Vir die
0/11-proewe mag jonger spelers genooi word, asook vir die 0/13-proewe.
TEN SLOTTE
Graag
versoek ons dat ouers bogenoemde aspekte met hul kinders sal uitklaar.
Ook sal ons as onderwysers en afrigters die saak van ouderdomsgroepe met
ons leerlinge hanteer. Die ouderdomsgroep-aangeleentheid is ook met die
Voorbereidingskool uitgeklaar. Hulle volg dieselfde beleid en sal dit
so aan hul ouers oordra. Ons besef dat die ouderdomskwessie ‘n
emosionele aangeleentheid is en besef dat verskeie argumente voor en
teen aangelê kan word, ‘n oefening wat ons self al geloods het, maar
telkemale loop ons ons vas in ‘n keerdatum. Ook moet daarop gelet word
dat as leerlinge wat ouer is toegelaat word om deel te neem, hul ander
leerlinge weer ‘n kans op deelname ontneem. Wat kontaksport betref, is
daar boonop wetlike implikasies sou ‘n oorouderdom kind ‘n opponent
beseer al is dit nie met opset nie.
Ons wil
glo dat bostaande uiteensetting u tevrede sal stel en vra u om ons in al
ons sportsoorte te ondersteun. Sport bly boonop net ‘n spel en alhoewel
dit uiters noodsaaklik is vir die vorming van ‘n kind, is dit net ‘n
deel van die kind se opvoeding as ‘n totale wese. Met ouer- en
skoolondersteuning pas kinders boonop gou aan.
Kom ons
maak 2010 ‘n wen sportjaar.
Durbanville-groete
A.
Winterbach
J.C. Swart
DEPARTEMENTSHOOF :
SPORT SKOOLHOOF
|