Omsendbrief 15

Back Next

Afrikaans
Akademie
Borge
Geselskamer
Klerebank
Jaarprogram
Leerderkomitee
Nasorg
Ons Skool
Ouergids
Personeel
Skoolkwartale 2010
Sport
Durbie Aksie
Kunsklub
Pa en seun

Omsendbrief 15/2010                                                                                                     10 Maart 2010  

 

Geagte Ouer

 

ONTTREKKING UIT SPORTSPANNE VIR KOMPETISIES

 

Sedert die ontstaan van ons skool het die leerlinge van Laerskool Durbanville hul skool met trots en waardigheid op die sportveld verteenwoordig.  Dit was nog altyd vir hul ‘n eer om hul skool op alle terreine (akademie, sport en kultuur) te verteenwoordig.  Holisme was nog altyd deel van Ons Eie.

 

Afrigters van Laerskool Durbanville doen baie moeite en sit ure in om die leerders op ‘n standaard te kry om kompeterend op die sportveld te wees.  Dit is tog deel van ‘n opvoeder se taak om alle talente maksimaal te ontwikkel.  Die afrigters is baie trots op hul skool en leerlinge en dit is vir hulle en die skool ‘n groot verleentheid as leerders op die dag van ‘n byeenkoms/wedstryd/gala onttrek.

 

Die sportbeleid van die skool bepaal dat as ‘n leerling gekies word om sy skool te verteenwoordig, hy/sy ‘n sportbriefie verkieslik ten minste 2 dae voor die wedstryd/byeenkoms/gala sal ontvang.  In hierdie briefie word al die nodige inligting verskaf.  Daar is ook gewoonlik ‘n afskeurstrokie wat voltooi moet word en aan die skool terugbesorg moet word.  Met die afskeurstrokie gee die ouer toestemming dat sy/haar kind mag deelneem en onderneem om die leerling betyds by die byeenkoms/wedstryd/gala te besorg of van skoolvervoer gebruik te maak.  Geen afrigter sal ooit ‘n kind verkwalik wat een of twee dae voor ‘n byeenkoms/wedstryd/gala die afrigter inlig dat hy/sy nie die skool (weens ‘n geldige rede) sal kan verteenwoordig nie.  Dit laat die afrigter met genoeg tyd om ‘n plaasvervanger te reël.

 

Twee van die waardes wat ons by ons leerlinge probeer inskerp, is respek en verantwoordelikheid.  Respek vir jou afrigter asook vir die skool teen wie ons gaan meeding deur nie op die nippertjie te onttrek nie.  Verantwoordelikheid deur jou woord te hou as jy onderneem het om deel te neem.

 

Indien ‘n leerling op die dag van die byeenkoms/wedstryd/gala moet onttrek a.g.v. siekte of ‘n besering, het ons begrip en word dit hanteer.

 

Dit het die afgelope tyd gereeld gebeur dat afrigters by die byeenkoms/wedstryd/gala opdaag net om by ander leerlinge te hoor dat sekere leerders nie meer gaan deelneem nie.  Tydens die byeenkoms word Laerskool Durbanville se leerders dan deur die afkondiger gesoek en is die skool in groot verleentheid.  Dit het vanjaar selfs by prestige-geleenthede (net sommige skole word genooi) gebeur.  Hierdie tendens moet onmiddellik gestaak word.  Ouers moet ook sorg dra dat leerders ‘n gebalanseerde buitemuurse program het.  Ons het ‘n omvangryke spyskaart, maar keuses moet soms gemaak word.

 

Baie dankie aan die vele ouers wat nie hul plig versuim nie en wel hul kinders die korrekte waardes aanleer.  Kom ons staan saam en ondersteun mekaar.  Dankie ook aan almal wat ons buitemuurse program help bestuur deur buitengewone lojaliteit.  Dit word opreg waardeer.

 

Vriendelik die uwe

 

 

 

A. Winterbach                                                               J.C. Swart

DEPARTEMENTSHOOF : SPORT                                  SKOOLHOOF