Omsendbrief 1

Tuis/ Home Terug/ Up 

 Omsendbrief 1/2008                                                                               16 Januarie 2008

 

 

Geagte Ouer

 

 

Welkom terug aan u almal.  ‘n Spesiale woord van welkom aan diegene wat vanjaar die eerste keer by ons aansluit.  Mag Ons Eie vir u ‘n tweede tuiste word en mag u en u kind/ers se drome hier verwesenlik word. 

 

In Eksodus 33:15 sê Moses vir Hom:  “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie.”  Ons bede is dat Hy saam met ons 2008 sal binnegaan.

 

Ontvang saam met hierdie skrywe die skool se jaarprogram (Bylae A).  U sal bemerk dat dit ‘n besige jaar gaan wees waar weer eens op holisme gefokus word.  Ons nooi u uit om saam met ons as personeel, die Beheerliggaam en die Durbie Aksie 2008-komitee te help skep aan ‘n milieu waarin almal van ons gelukkig is.

 

SEWE-DAG ROOSTER

 

Ons is in 2008 genoodsaak om na ‘n sewe-dag rooster oor te skakel, ten einde al die klasgroepe in die rekenaar-, kuns- en tegnologielokale te akkommodeer.

 

Ten einde die beplanning vir alle belanghebbendes te vergemaklik, is hierdie rooster reeds vir die hele jaar bepaal en daar sal nie hiervan afgewyk word nie.  Indien ‘n akademiese dag weens onvoorsiene omstandighede verlore gaan, sal die rooster nie aangepas word nie.

 

Die roosterindeling vir 2008 word in Bylae A vervat.  Dit word ook in die leerderdagboeke aangedui.  Die sewe-dag rooster sal op Woensdag 23 Januarie 2008 begin met die Dag 1-rooster wat gevolg word.

 

EKSAMENREëLINGS

 

Aangesien daar heelwat ouers is wat hul vakansiereëlings lank voor die tyd maak, gee ons nou reeds die volgende aan u deur:

 

Gedurende die eerste kwartaal strek die toetsweke van 3 Maart tot 14 maart 2008.  Die Junie-eksamen sal strek vanaf Dinsdag 17 Junie tot Donderdag 26 Junie 2008.  Die skool sluit op Vrydag 27 Junie om 11:00.  Rapporte sal gedurende die eerste week van die derde kwartaal op Woensdag 16 Julie 2008 uitgehandig word.

 

Gedurende die derde kwartaal strek die toetsweke van 8 September tot 19 September 2008.  Die November-eksamen sal strek vanaf Maandag 24 November tot Woensdag 3 Desember 2008.  Die skool sluit op Vrydag 5 Desember 2008.

 

Die motivering vir bogenoemde is as volg:

 

 

 

Die akademiese jaar raak al hoe korter en leerkragte sukkel om al die uitkomste te onderrig.  Belangrike vaardighede word soms afgejaag en nie deeglik ingeoefen nie.  Bogenoemde reëlings stel ons in staat om die onderrigtyd maksimaal te benut. 

 

Eksamenskryf is ‘n vaardigheid waaraan ons ons leerders wil blootstel, sonder om drie weke onderrigtyd te verloor.

 

Heelwat leerders verlaat die skool na afloop van die eksamen en leerkragte kan nie aangaan met nuwe akademiese werk nie.  In sekere klasgroepe is daar tot 60 per dag afwesig.

 

Dit raak dus moeilik om die oorblywende leerders sinvol besig te hou, aangesien van hul maats reeds vakansie hou en leerders onwillig is om take te verrig.  Dit is ook nie regverdig om die leerders wat wel die skool bywoon, se tyd te mors nie.  Hierdie toedrag van sake is ook ‘n frustrasie vir beide leerkragte en leerders na ‘n besige kwartaal.

 

Daar behoort ook minder botsings tussen akademiese- en kulturele sportprogramme te wees.

 

NASIONALE KURRIKULUMVERKLARING

 

Die Nasionale Kurrikulumverklaring vereis dat elke leerder bewyse van prestasie aan die einde van die jaar tydens die bevorderings moet kan lewer.  Leerders word versoek om hul portefeuljes deurlopend nougeset by te hou.  Ons versoek ook u as ouer/voog om u kind hierin te ondersteun.  Leerkragte sukkel soms met leerders wat take, notas of werkvelle verloor.

 

HANDBOEKE

 

Skole word wetlik verplig (Wysigingswet op Onderwyswette nr. 24 van 2005) om handboeke aan leerders te voorsien.  Leerders moet hierdie handboeke goed oppas en oortrek met plastiek, aangesien dit nie hulle eiendom is nie.  Dit word slegs aan ‘n leerder geleen en indien die handboek wegraak, is die leerder verantwoordelik vir die aankoop van ‘n nuwe handboek.

 

Die handboeke word in samehang met die modules gebruik.  Die modules behou die bestaande formaat.  Die voorblad, werkskedule, lesplan en assesseringsplan dui presies aan watter werk/vaardighede onderrig gaan word.  Die formele assesserings word gebruik om die finale vorderingspunt kwartaalliks te bepaal.

 

Indien u enige verdere navrae het, is u welkom om die klasleerkrag tydens die inligtingsaande te nader.

 

ATLETIEK

 

Sien asseblief Bylae B.

 

 

Durbanville-groete

 

 

 

 

J.C.  Swart

SKOOLHOOF

 

 

 

 

 

BYLAE B

 

ATLETIEK 2008

 

 

1.                   DOEL

 

Die doel van ons atletiekbyeenkoms is massadeelname, die bou van ‘n gesonde kompeterende gees asook die blootstelling aan verskeie atletiekitems.  Massadeelname in spanverband (ook op die pawiljoen) is dus ‘n prioriteit.  So word ‘n positiewe gees aan die begin van die jaar gebou wat ons hoop sal deursyfer na alle aktiwiteite in 2008.

 

2.                   BYEENKOMSTE

 

2.1               Velditembyeenkoms (gekeurde atlete) : Dinsdag 29 Januarie 2008

 

2.2               Interhuisatletiekbyeenkoms (alle leerders) : Woensdag 30 Januarie 2008

 

2.3               Durbell-atletiekbyeenkoms (Bellville Velodrome), spanatlete : Saterdag 9 Februarie 2008.  Leerders ontvang inligtingsbriewe na interhuisbyeenkomste.

 

3.                   ALGEMENE REëLINGS

 

3.1               Sifting vir die interhuisatletiekbyeenkoms (veld en baan) vind gedurende die skooldag plaas om aan almal maksimale blootstelling te bied.  Leerders wat kwalifiseer om deel te neem, sal in kennis gestel word.

 

3.2               Massadeelname

 

Alle atlete (leerlinge) mag aan die volgende items deelneem.  Elke leerder wat deelneem, verwerf punte vir sy/haar span.  Leerders benadeel dus hul span as hul nie deelneem nie.

 

Die volgende items is vir massadeelname:

 

0/10 en 0/11            80 m naelloop

0/12                        150 m naelloop

0/13                        200 m naelloop

 

3.3               Items vir gekeurde atlete (leerders word gesif)

 

3.3.1          Hekkies:  ± 12 atlete per item (4 per kleurgroep/huis)

3.3.2          Langafstande (800 m, 1200 m en 1500 m):  ± 20 atlete (5 per kleurgroep/huis)

3.3.3          100 m naelloop:  18 atlete (twee uitdunne), d.w.s. 6 atlete per kleurgroep/huis

3.3.4          Velditems:  ± 12 atlete per item (4 per kleurgroep/huis)

 

4.                   PROGRAM (16 Januarie tot 31 Januarie 2008)

 

·         Woensdag 16 Januarie

Skole heropen.  Geen atletiek.

 

·         Donderdag 17 Januarie

Sifting van 0/13- en 0/14-leerders.  Kom skool toe in LO-drag.  Bring eie waterbottel, sonblok en pet.

 

·         Atletiekoefening vanaf 14:15 tot 16:45

      Slegs vir 0/10-leerders.

 

 

·         Vrydag 18 Januarie

Sifting van 0/12-leerders.  Kom skool toe in LO-drag.  Bring eie waterbottel, sonblok en pet.

 

·         Maandag 21 Januarie

-          07:00-07:40  ‘n Geleentheid word gebied vir leerders wat 800 m, 1200 m, 1500 m en naellope wil oefen.

-          Sifting van alle 0/10-leerders.  Kom skool toe in LO-drag.  Onthou waterbottel, sonblok en pet.

 

·         Dinsdag 22 Januarie

-          07:00-07:40    Geleentheid  vir  leerders  wat 800 m, 1200 m, 1500 m en naellope wil oefen.

-          Sifting van alle 0/11-leerders.  Onthou jou waterbottel, sonblok en pet.

 

·         Woensdag 23 Januarie

-          07:00-07:40  Leerders wat 800 m, 1200 m, 1500m en naellope wil oefen.

-          Alle leerders wat velditems en hekkies wil oefen:  14:30-16:30.  Program sal volg.

 

·         Donderdag 24 Januarie

Aflosoefening vir aflosspanne:  14:30-15:30.

 

·         Vrydag 25 Januarie

Geen atletiek.

 

·         Maandag 28 Januarie

-          07:00-07:405  Leerders wat 800 m, 1200 m, 1500 m en naellope wil oefen.

-          Geen atletiek in die middag nie aangesien die bane gekalk en voorberei word.

 

·         Dinsdag 29 Januarie

-          Velditembyeenkoms:  13:30-17:30

-          Skool sluit om 13:00 sodat atlete gereed kan maak om deel te neem.

-          Leerders wat nie deelneem nie, mag om 14:00 huis toe gaan.

 

·         Woensdag 30 Januarie

-          Interhuisatletiekbyeenkoms:  08:00-15:30.  Alle leerders kom skool toe in LO-drag.  Onthou waterbottel, sonblok en pet.  Alle leerders tree om 08:00 in hul rye aan soos gewoonlik.  Daar sal ‘n snoepiefasiliteit gedurende die hele dag beskikbaar wees.

 

·         Vrydag 1 Februarie

Atlete wat kwalifiseer vir Durbell-byeenkoms, ontvang hul briewe en moet vanaf Maandag 14:30-15:30 kom oefen.

 

·         Saterdag 9 Februarie

Durbell-atletiekbyeenkoms – Bellville Velodrome

 

 

(Mev.) I. Lübbe                                                   J.C. Swart

ORGANISEERDER                                            SKOOLHOOF

 

11 Oktober 2007