|
|
|
Omsendbrief 7/2008 24 Januarie 2008
Geagte Ouers
WYSIGING VAN VORIGE WETGEWING RAKENDE GEDEELTELIKE OF VOLLEDIGE KWYTSKELDING VAN SKOOLGELDE
Hiermee word u deur die skoolhoof en Beheerliggaam ingelig dat die inhoud en proses van gedeeltelike of volledige vrystelling, deur wetgewing gewysig is en as ‘n regulasie gepubliseer is in ‘n Staatskoerant van 18 Oktober 2006, volume 496. ‘n Kopie van hierdie regulasies is ter insae by die skool se finansiële kantoor beskikbaar.
1. SKOOLGELDE
Gedurende ‘n begrotingsvergadering wat op 5 November 2007 gehou is, is daar deur die ouergemeenskap besluit dat die skoolgelde R7 250 per jaar sal bedra vir 2008. Hierdie bedrag is betaalbaar in gelyke paaiemente oor 10 maande. ‘n Eenmalige betaling van R6 700 is ingestel indien die volle jaarbedrag voor 28 Februarie 2008 vereffen is.
2. WETLIKE AFDWINGBAARHEID VAN SKOOLGELDE
Die skool is nie as ‘n “geen skoolgelde skool” verklaar nie en skoolgelde is dus wetlik afdwingbaar. Ouers wat nie kwalifiseer vir kwytskelding van skoolgeld nie, word in terme van artikel 39 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 verantwoordelik gehou vir die betaal van skoolgeld. In terme van artikel 40 en 41 van die Suid Afrikaanse Skolewet, mag die Beheerliggaam hierdie verantwoordelikheid wetlik afdwing.
3. PROSEDURE VIR ALGEHELE OF GEDEELTELIKE VRYSTELLING VAN SKOOLGELDE
Ouers wat kan kwalifiseer vir gedeeltelike of volledige vrystelling, moet die volgende stappe in ag neem.
Om te kwalifiseer vir algehele of gedeeltelike vrystelling, word die ouers se jaarlikse gesamentlike bruto inkomste (punt 6.2 van die regulasie) as maatstaf gebruik.
Die aansoekvorm om vrystelling (wat slegs amptelik in Engels beskikbaar is) is beskikbaar by die finansiële kantoor en moet volledig voltooi word en persoonlik by die finansiële kantoor van die skool ingedien word.
Die Beheerliggaam sal voorts binne dertig (30) dae na ontvangs van die aansoek, die inligting verwerk en ‘n besluit neem aan die hand van voorgeskrewe tabelle (punt 6.2(a) van die regulasie).
Ouers wat van hierdie opsie gebruik maak, het ook die reg om self die inligting met die Beheerliggaam of betrokke komitee te bespreek, of ‘n verteenwoordiger te benoem om dit namens hom/haar te doen.
Die Beheerliggaam het die verdere verantwoordelikheid om binne sewe (7) dae nadat die besluit oor vrystelling geneem is, dit skriftelik met die ouer te kommunikeer, asook redes te verstrek vir sodanige besluit.
Indien ‘n ouer nie kwalifiseer vir vrystelling nie, het die ouer die reg om binne dertig (30) dae na die besluit van die Beheerliggaam ‘n appél te rig aan die Onderwyshoof (WKOD) vir verdere oorweging.
4. INVUL VAN BYLAE A
Volgens bogenoemde regulasie, word van alle ouers verwag om Bylae A vir elke leerder te voltooi, nadat u uself van die inligting in hierdie skrywe vergewis het. Leerders moet voltooide Bylae A-vorm teen Maandag 28 Januarie 2008, by hul klasonderwyser inhandig. ‘n Kopie sal na die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gestuur word en u sal ‘n kopie ontvang. Die oorspronklike vorm sal by die skool geliaseer word. Dit is dus baie belangrik dat Bylae A so spoedig moontlik voltooi en na die skool terug gestuur word.
5. WAARDERING
Die ouergemeenskap word hiermee bedank vir u lojaliteit en ondersteuning aan die skool. Die ervaring van die verlede dien as kragtige bewys dat ouers ‘n finansiële verantwoordelikheid aanvaar ter wille van die realisering van die skool se doelwitte.
Vriendelik die uwe
J.C. Swart (Dr.) F.C.R. Theron D. du Toit SKOOLHOOF VOORSITTER : BEHEERLIGGAAM TESOURIER : BEHEERLIGGAAM
|