|
|
|
||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
JAARVERSLAG: 2009
1. INLEIDING
2. PERSONEEL
2.1 Algemeen 2.2 JOT-onderwysers
3. KURRIKULUM
3.1 Akademie 3.2 Assessering 3.3 Didaktiese Hulpverlening en Remediërende Onderrig 3.4 IsiXhosa 3.5 Tegnologie 3.6 Inligtings- en Kommunikasietegnologie 3.7 Biblioteek
3.8 Wiskunde 3.8.1 Wiskunde-verryking 3.8.2 Conquesta 3.8.3 AMESA
3.9 Kuns en Kultuur
4. SPORT
4.1 Provinsiale kleure 4.2 Rugby 4.3 Netbal 4.4 Hokkie 4.5 Landloop 4.6 Gholf 4.7 Skaak 4.8 Krieket 4.9 Swem 4.10 Atletiek 4.11 Tennis 4.12 Sportdae
5. KULTUUR
5.1 Eisteddfod 5.2 Kuns 5.3 Musiek 5.4 Koor 5.5 Sterre 2009 5.6 Landsdiens 5.7 Dramaklub
6. LEERDERS
6.1 Leerderkomitees 6.1.1 Inleiding 6.1.2 Sportkomitee 6.1.3 Bemarkingskomitee 6.1.4 Skolierpatrollie 6.1.5 Leerder-sosialekomitee 6.1.6 Mediakomitee
6.2 Nasorg 6.3 Klerewinkel 6.4 Wêreldbiddag vir Vroue 6.5 Kinderpinkster 6.6 Puberteitskursus 6.7 Leierskapkursus Graad 6 6.8 Graad 6-kamp 6.9 Graadverkopings 6.10 Kommunikasie 6.11 Gedragskode 6.12 Ma-en-dogteroggend 6.13 Pa-en-seunaand 6.14 Graad 7-afskeid en skoolverwisselingskamp
7. BEMARKING
7.1 Durbie Aksie 2009 7.2 Graad 3-oriëntasie 7.3 Bekendstellingsaand Graad 3 7.4 Sonbeleid
8. FINANSIES
8.1 Finansies 8.2 Civvies 8.3 Entrepreneursdae 8.4 Herwinning
9. SLOT
JAARVERSLAG 2009 1. INLEIDING
‘n Beroemde Duitse resep vir die maak van goeie koffie sê die volgende: “Sit iets daarin.” m.a.w. wat jy ook al doen, sit iets daarin. Of jy nou ‘n regsgeleerde, ‘n geneesheer, ‘n predikant, ‘n atleet, ‘n onderwyser of ‘n leerder is, sit iets daarin! Dis die enigste manier tot sukses.
Dankie aan onderstaande instansies en persone wat in 2009 “iets” in Ons Eie gesit het – hul beste daarin gesit het.
Graag wil ek dan my dank teenoor die volgende instansies, persone en organisasies betuig wat ‘n aangename milieu vir kinders, onderwysers en ouers help skep het:
- Alle ouers, vriende en maatskappye wat bereid is om ons op so baie terreine te steun, ten spyte van ‘n swak ekonomie. U samewerking en belangstelling help om die onderwys van ons kinders sinvol te maak.
- Baie dankie aan diegene wat ons mildelik d.m.v. borgskappe gesteun het. Meer as 40 individue en instansies het ons in 2009 met borgskappe ondersteun.
- Die Beheerliggaam, by name mnre. Reg Ferreira, Christie Fourie, Murray Scholtz, Archie Winterbach, Riaan de Lange en mevv. Karen Steenkamp en Mercia Horne onder voorsitterskap van mnr. Dewald du Toit, wat hul termyn met toegewydheid afgesluit het. Ons salueer hulle. - Die nuutverkose Beheerliggaam, by name mnr. J.N. Boshoff; A. Winterbach, C.J.Fourie, P.B.Joubert, L.R. van Niekerk en mev. J.M.Louw onder voorsitterskap van mnr. R. de Lange, wat reeds reuse werk verrig het om die visie van die skool te volbring.
- Die Durbie Aksie 2009-komitee, onder voorsitterskap van Madri Mijburgh, wat nuwe horisonne verken.
- Alle ouerkomitees wat hul kundighede met ONS EIE gedeel het.
- Die trustees van die Sakkie Marais Sportontwikkelingstrust en die Jaap Weideman Opvoedkundige Trust vir skenkings van hul ontvang. Hul het vreugde in menige kinderhart gebring, kinderpotensiaal uitgebou en geleenthede geskep.
- Die personeel vir die ekstra myl wat hulle loop en die onbaatsugtige diens wat hulle tot voordeel van ons kinders binne sowel as buite die klaskamer lewer. Die pragtige prestasie wat ons kinders weer eens vanjaar gelewer het, getuig van die kwaliteit mense wat in die Laerskool Durbanville arbei.
- Die direkteur: OBOS Metropool Noord, mnr. B. Volschenk, asook ons senior kringspan bestuurder, mnr. J. Kotzé, en institusionele bestuurs- en beheerbestuurder, mnr. B. v.d. Berg vir hulle bereidwilligheid om ons te alle tye met raad en daad by te staan.
- Alle amptenare van die WKOD en die OBOS Metropool Noord, wat altyd bereid is om ons skoolgemeenskap te dien.
- Mnre. D. Nortier, G. Germishuys en R. Dingley van die Voorbereidingskool, die Hoërskool Durbanville en die Hoërskool Fairmont onderskeidelik, vir hulle hartlike samewerking.
- Mevv. Crous, Barnard, Jooste, Horne, Esterhuizen en Strauss vir die administratiewe take wat hulle met soveel ywer verrig. U deeglikheid en gesindheid is ‘n voorbeeld vir baie.
- Mnr. Francois Roux wat as sportorganiseerder fungeer.
- Die terreinbestuurder, mnr. B. Swanepoel, saam met al die werkers wat na die netheid van ons terrein en geboue moet omsien. Ons staan nie verniet bekend as die netjiesste skool in ons omgewing nie.
- Alle aflosonderwysers wat met deeglikheid kollegas, wat met verlof was, se plekke volgestaan het.
- Aan mevv. E.Swart, L. le Roux en A. Rossouw wat d.m.v. die nasorg- sentrum ‘n “tweede huis” aan baie leerlinge bied.
- Aan mev. A. de Reuck en mej. T. Moore vir hul jarelange pligsgetroue diens in die klerebank wat hul vanjaar termineer het, asook die nuwe dame, mev. M.Boehme, wat puik diens lewer.
- Aan al die leerlinge, in besonder die hoofleiers, Carl Prinsloo, Jason Forsyth, Marna Louwrens en Alexa Smit, wat met gedrag en deelname aan buitemuurse aktiwiteite help om vir Laerskool Durbanville ‘n trotse rekord op te bou.
- Aan alle afrigters uit ouergeledere wat hul kundigheid met ons leerlinge gedeel het, asook alle sportkomitees wat die verskillende sportkodes met toegewydheid gedien het.
- Aan mnr. en mev. Bezuidenhout en die personeel van die Durbanville Kinderhuis, wat met deernis ‘n verskil in baie leerlinge se lewe maak en probeer maak.
- In besonder dank aan ons Hemelse Vader, wat ons deur ‘n jaar met baie onsekerhede en aanpassings gelei, bewaar en die vermoë om te werk en te speel, gegee het.
Mnr J.C. Swart SKOOLHOOF 2. PERSONEEL
2.1 Algemeen
‘n Ware leier moet met integriteit kan lei en hiervan kan ons, met groot dank, van die personeel van die Laerskool Durbanville, getuig. Hulle het weer eens bewys dat goeie beplanning, toewyding en entoesiasme die resep tot sukses is.
Die personeel bestaan tans uit:
37 akademiese opvoeders (21 WKOD en 16 Beheerliggaam) 4 halfdagposte (Xhosa, Kuns en Kultuur, Koorbegeleiding en Lewensopvoeding LU4) 4 privaat musiekpersoneellede (klavier, viool, dwarsfluit en klawerbord) 2 WKOD-kantoorpersoneel (insluitend ons sportorganiseerder en sportwetenskaplike) 3 WKOD-terreinwerkers (insluitend ons terreinbestuurder) 6 beheerliggaam-terreinwerkers 3 nasorgdames 1 klerebankdame
Ons het vanjaar ‘n paar nuwe kollegas verwelkom:
· Mnre. Michael Mangiagalli, Henri Potgieter en Mev. Elmien Saayman in Gr.7 · Mnr. Steven Nolan, Lewensopvoeding leerkrag · Mev. Anel Strauss, Databeampte · Mev. A. le Roux, Nasorg · Mev. M. Boehme, Klerebank · Mev. Elsa van Zyl, WKOD-aanstelling as leerondersteuner in die OLSO-eenheid by die Kinderhuis.
Mnr. Steven Nolan en Elmena van der Vyver geniet nuwe huwelikstatus. Mnr. Steven Nolan en Heidi is aan die einde van 2008 getroud en Elmena is in die Septembervakansie met Eddie Conradie getroud. Mev. Nina Swart en haar man, Jaco, het vanjaar ‘n eerste seuntjie ryker geword. Die ooievaar voel tuis in die Durbie-omgewing en besoek vroeg in die nuwe jaar (2010) mnr. en mev. Greyvenstein met hulle eerste kleinding!
Saam met al die vreugdes, het ‘n paar van ons personeel groot hartseer ervaar. Mev. Linda van Niekerk het ‘n skoonmoeder, mev. Klippie Vivier en Mariëtte Kleinhans het ‘n swaer, mev. Liezel Jacobs ‘n skoonpa, mnr. Gerhard Oberholzer ‘n pa en mnr. Ben Swanepoel het ‘n broer, verloor.
Gedurende die September-vakansie het me Sunette Smith ‘n voetoperasie ondergaan en word deur mev. Esmé Maartens afgelos. Mev. Maartens is ‘n ou bekende by ons, aangesien sy ook vir 6 maande in mev Nina Swart se plek afgelos het, terwyl laasgenoemde met bevallingsverlof was.
Mev. H. du Toit
2.2 JOT-ONDERWYSERS
Die afgelope jaar was daar Christene van verskillende kerke wat die “Jesus Our Teacher” (JOT)-klasse aangebied het. Die fasiliteerders is jeugwerkers van kerke in die omgewing asook ouers van die skool wat graag evangelisasie-werk doen. Elke klas het een JOT-periode per 7-dag siklus. Die leerders geniet die kreatiewe manier waarop die klasse aangebied word en kry werklik die geleentheid om geestelik te groei.
Die Afrikaanse en Engelse Gr.7’s het buiten die enkel periode ook ‘n dubbel JOT-periode per siklus waar al die Gr.7’s bymekaar is vir ‘n Christelike boodskap. Tydens hierdie periodes het die leerders o.a. geestelike liedjies gesing en ‘n boodskap ontvang.
Die onderskeie kerke wat betrokke was by die JOT-klasse tydens 2009 is: N.G.Kerk Bergsig, N.G.Kerk Moedergemeente en Urban Edge. Ons opregte dank aan elke vrywilliger wat in die afgelope jaar ‘n bydrae gelewer het. Dit is van onskatbare waarde.
Mev. J.Goosen
3. KURRIKULUM
3.1 Akademie
Te midde van ‘n bedrywige holistiese spyskaart, staan ons dinamiese, kind-gesentreerde kurrikulum nog steeds sentraal. Hierdie kurrikulum word deurentyd ontwikkel, aangepas en uitgebou deur ervare en goed toegeruste leerkragte. Wat die onderrig betref, is daar vanjaaf gefokus op die basiese. Daar is o.a. ‘n Religie-, navorsings-, ‘n litteratuur- en ‘n spelbeleid saamgestel. In die Religiebeleid het ons weer eens beklemtoon dat ons onderrig Christelik-gefundeerd is en dat godsdiensonderrig nog sy regmatige plek in die skool inneem. Daar is besluit om terug te keer na die Bybelverhale en benewens ander oorhoofse temas, is die Bybelverhale verdeel tussen die verskillende grade, gelees en bespreek. Ons is ook tans besig met die aankoop van Bybels en ons beoog om hierdie projek spoedig af handel.
By die Laerskool Durbanville is die geestelike ontwikkeling en die vaslegging van waardes en norme, ononderhandelbaar.
Navorsing is ‘n baie belangrike vaardigheid wat ons leerders op hul eie moet bemeester. Die navorsingsbeleid is daarop gemik om aan elke leerder duidelike voorskrifte te gee rakende die voltooiing, verwerking en assessering van navorsingsopdragte. Daarom het die skool ook probleemareas aangespreek en hierdie beleid is aan elke leerder en ouer deurgegee.
In die literatuurbeleid is daar opnuut gekyk na die verskillende stilleesvaardighede wat essensieel is en dit word progressief aangespreek. Nuwe gegradeerde leesreekse gaan oor die volgende drie jaar vir die meeste grade aangekoop word. Ons het ook op lees en spel gefokus, aangesien ons besorg is oor sommige leerders se lees- en spelvaardighede. Indien stilleesvaardighede nie aangeleer word nie, kortwiek dit leerders in alle ander leerareas. Daar is opnuut besin oor formele spelonderrig in die klaskamer.
In die modulêre stelsel is daar gekyk na assessering en daar is begin met die verfyning daarvan. Die implementering van die kurrikulumbeleid word omsigtig gedoen en daar word deurentyd jaloers gewaak oor ons standaarde. Die departementele kurrikulumverklaring stipuleer die minimum standaard en assesseringskriteria en in ons kurrikulering sal ons na ‘n deeglike situasie-analise daarna streef om die minimum standaarde ver te oortref. Deur middel van hoofsaaklik klasonderrig, poog ons om in ‘n ontspanne atmosfeer elke leerder optimaal te ontwikkel. Leerders word blootgestel aan verskeie denkvlakke en daar word nie slegs gekonsentreer op die klakkelose weergee van inligting nie.
Ons poog ook deurgaans om ons leerders se algemene kennis uit te brei. Aktuele kwessies word ook deurentyd in klasbesprekings aangespreek en ons moedig leerders aan om die vrymoedigheid te hê om hul menings daaromtrent te lug. Ons ontvang weekliks d.m.v. elektroniese pos ‘n stel algemenekennis vrae opgestel deur Dawid van Lill. Leerders kon ook individueel deelneem aan die Conquesta-vasvra wat op spesifieke leerareas gebaseer is. Ons het ook vanjaar ons leerders die geleentheid gegee om aan ‘n Wiskunde-kompetisie deel te neem. Deelname was vrywillig en leerders het pragtige sertifikate ontvang.
Mev. L. Bester
3.2 Assessering
Daar word van elke leerder verwag om deurlopend aan die onderrigproses deel te neem en daarom word hulle deurlopend geassesseer. Die toets-/eksamenpunt word saam met die deurlopende assesseringskode in berekening gebring wanneer bevordering oorweeg word. Deurlopende assessering verseker ook dat leerders konsekwent werk en nie slegs voor ‘n toets of eksamen hulle kant bring nie.
Daar vind formele en informele assessering in elke module plaas. Alle formele assesserings word op ‘n assesseringsplan uiteengesit. Daar is ook reeds begin om sekere vaardighede nasionaal volgens vasgestelde kodes te beoordeel. Daar is ook versekeie rolspelers by hierdie assesseringsproses betrokke en leerders word ook hierby betrek. Leerders moet bewus wees van wat geassesseer gaan word, asook hoe dit geassesseer gaan word. Dit is insiggewend hoe positief en betrokke leerders raak wanneer hulle soms medegroeplede moet evalueer. Dit is nog ‘n vaardigheid wat ons leerders moet aanleer en die finale assessering word egter deur die leerkrag gedoen.
Daar is vanjaar twee eksamens, een in Junie en een in November, afgelê. Ons glo dat die kennisaspek nie verwaarloos moet word nie en dat “eksamenskryf” ‘n vaardigheid is waaraan ons leerders ook blootgestel moet word. Daar is ook leerderprofiele en leerderportefeuljes van die leerders saamgestel wat bewyse van leerders se prestasies en hul akademiese geskiedenis bevat.
Mev. L. Bester
3.3 Didaktiese hulpverlening en remediërende onderrig
Ons weet dat leerders wat akademies goed onderleg is, gelukkige kinders is. Dit is dus vir ons as opvoeders belangrik om leerders met akademiese agterstande so gou as moontlik te identifiseer en d.m.v. hulpverlening die nodige hupstoot te gee.
‘n Groep van ons eie leerkragte vorm ‘n didaktiese hulpverleningspan. Die klem het vanjaar op ekstra Wiskunde-onderrrig geval. Hierdie gratis, ekstra konsolidasie-lesse is getrou bygewoon en leerders getuig van ‘n merkbare verbetering in die toepassing van hul Wiskunde-vaardighede.
Ons is baie bevoorreg dat die WKOD, mev. Naretha Bekker as leerondersteuner aan ons skool toegeken het. Haar taak is om leerders met spesiale onderwysbehoeftes te onderrig. Nadat ‘n assesseringsbattery aangewend is om agterstande te identifiseer, word ‘n geïndividualiseerde hulpprogram saamgestel om aan individuele leerders se behoeftes te voorsien.
‘n Remediërende klaskamer is met rekenaars ingerig en verskeie programme is aangekoop. Hierdie programme sterk die hande van die konsultant, aangesien individue teen hul eie pas kan vorder en groter groepe gelyktydig geakkommodeer kan word.
Die WKOD het die nood van Kinderhuis-leerders met groot akademiese agterstande raakgesien, en ‘n OLSO-klas met hul eie onderwyseres, is op die terrein van die Kinderhuis gestig. Hierdie satelliet-eenheid ressorteer onder OBOS Metropool Noord en die Laerskool Durbanville.
Ons dank aan talle professionele persone in die gemeenskap en kundiges by OBOS-Noord wat ons gereeld met raad en daad bystaan. Hulle reuse aandeel in die optimale funksionering van sommige van ons leerders is van onskatbare waarde.
Mej. S. Smith
3.4 IsiXhosa
Die afgelope jaar is isiXhosa suksesvol as tweede addisionele taal aan alle Gr.4- tot 7-leerders aangebied. Op so ‘n wyse word die doelwit van basiese gesprekvoering in ‘n derde taal aan die einde van Gr.7 sinvol bereik.
Die entoesiasme waarmee die leerders die onderrig deurloop het, het weer eens bewys hoe ontvanklik kinders se taalvermoë op hierdie ouderdom is. Die klem val deurgaans op pret-aktiwiteite wat daarop gemik is om praat- en luistervaardighede te ontwikkel. Basiese gesprekke, soos bv. by die vulstasie, die winkel en in die huis word aangeleer. Om die taalverwerwing verder vas te lê, is hul skriftelik en mondelings getoets.
Deur die aanbieding van hierdie basiese kommunikasievaardigheid in IsiXhosa, is die Laerskool Durbanville deel van suksesvolle derdetaalonderrig in die Wes-Kaap.
Mev L. Keet
3.5 Tegnologie
In tegnologie het die klem vanjaar geval op probleemoplossing, ontwerp, vasstel van vereistes, aandui van benodigdhede en navorsing oor die toepassing en uitvoer van probleemstellings. Areas soos bemarking, water, elektrisiteit, katrolle en ratte, wiele en asse, onthaal en spyseniering, strukture, wind, tekstiele, plastiek en papier en karton is behandel. Alle aspekte van die tegnologiese proses is aangespreek sodat deurlopende evaluering aangaande vaardighede gedoen word en die leerder se ontwikkeling geëvalueer kan word. Die eindproduk, wat die toepassing van die tegnologiese proses is, is wel belangrik, maar dit is nie die enigste deel van geëvalueer word nie. Assessering van prosesse en produkte word individueel, in groepsverband en deur die leerkrag gedoen.
Die ontwikkeling van handvaardighede, insameling en prosessering van data in samewerking met die rekenaar geniet ook aandag. Ons doel is om leerders gedurende die laerskoolfase beroepsgerig voor te berei en om van hulle entrepreneurs te maak. As uitbreiding van die kurrikulum bied ‘n privaat maatskappy twee maal per week robotica-klasse aab. ROSSUM ROBOTICS leer die leerders om robotte te bou en te programmeer. Die afdelings, Stelsels en Beheer, Elektrisiteit, Wiele en Asse en Katrolle en Ratte word hierdeur aangespreek.
Mnr. P.M.Swart
3.6 Inligtings- en Kommunikasietegnologie
Die skool beskik tans oor 2 afsonderlike rekenaarsentrums.
Die hoofrekenaarsentrum bestaan uit 34 moderne rekenaars wat aan die Internet gekoppel is. Die rekenaars is onlangs opgegradeer. Elke rekenaar is ‘n volledige Multi Media-rekenaar met klankfasiliteite.
Die sentrum word aangewend vir die onderrig in rekenaartegnologie, m.a.w. vaardighede in die aanleer van verskillende programme. Die leerlinge ontvang onderrig in sagtewarepakkette soos M/S Word 2007, M/S Excel, M/S Access, M/S Powerpoint en Internet Explorer. Temas waarin die onderrig geskied, word verskaf deur die verskillende klasonderwysers. Werk wat in die rekenaarsentrum gedoen word, dien dus as verryking vir die werk in die klas.
Die sentrum beskik oor ‘n Xerox-wasdrukker wat drukwerk van hoogstaande gehalte lewer. Temagedrewe opdragte kan gedruk word en by die leerders se modules gevoeg word.
Verder beskik elke leerder in die skool oor ‘n eie e-pos adres. Leerders gebruik M/S Outlook as e-pos bediener. Tyd word gedurende lesure afgestaan vir e-pos doeleindes. E-pos word gestuur aan vriende, ouers en kennisse. Die internet-konneksie in die skool word aangedryf deur ‘n ADSL-lyn. Dit bring mee dat ons internet-spoed baie hoog is.
In die didaktiese rekenaarsentrum word leerhulp op die rekenaars aangebied in die vorm van Wiskunde- en Leesprogramme.
Die onderwysers beskik ook oor ‘n rekenaar in die klaskamer. Met internet-toegang op hulle rekenaars, verseker die tegnologie dat modules van hoogstaande gehalte tot voordeel van die kind geskep kan word. Daar is vroeër vanjaar 26, 42“ plasmaskerms aangekoop wat in sekere klaskamers opgesit is. Dit word deur die onderwysers gebruik om die leerervaring te verbreed.
Mnr. G. Oberholzer
3.7 Biblioteek
Die Durbies het Wêreld Boekdag op 24 April gevier deur ‘n reuse boekverkoping in ons skoolsaal te hou. The Book People het boeke vir leerders van Gr.4-7 uitgestal. ‘n Wye verskeidenheid onderwerpe en belangstellings is gedek. Alle belangstellende leerders kon deur die loop van die skooldag boeke besigtig en aanskaf. The Book People het boeke ter waarde van R14 207,00 verkoop en dus kon die skoolbiblioteek boeke ter waarde van ongeveer R2 100,00 by hul pakhuis uitkies. Durbies is ywerige lesers en almal het die dag geniet.
Hierdie jaar was die skool bevoorreg dat mev. Tracy de Villiers elke week uitgehelp het in die biblioteek. Sonder haar hulp sou die biblioteek nie so doeltreffend kon funksioneer nie.
Mev I. Rossouw
3.8.1 Wiskunde 2009
Ons het vanjaar probeer om die kwaliteit van die onderrig en leer van Wiskunde te verbeter deur verskeie geleenthede te skep om deel te neem aan kompetisies, olimpiades en verryking.
Wiskunde verryking: Leerders moet leer om uitdagings te aanvaar en dit is ook ons doel om die jonger geslag aan meer uitdagings bloot te stel sodat hulle kan leer om vir hulself te dink en die regte besluite te kan neem. Daarom is daar op ‘n roterende tweeweeklikse basis sekere Gr.4-, 5- en 6-leerders onttrek om hulle verdere blootstelling aan probleemoplossings- en strategiese vaardighede t.o.v. Wiskunde te gee. Breinkrag is behoorlik ingespan!
Mev. B. van Dyk
3.8.2 Conquesta
Talle Gr.4- tot 7-leerders het hiervoor ingeskryf en dit as ‘n goeie uitdaging aanvaar. Dit is vraestelle wat uit internasionale meervoudige keusevrae bestaan en teen tyd voltooi word. Ons wag egter nog vir die uitslae.
Mev B. van Dyk
3.8.3 Amesa
Gedurende Nasionale Wiskundeweek het al die leerders gedurende skooltyd die geleentheid gehad om deel te neem aan die kompetisie. Die vraestelle is opgestel deur RUMUES (Navorsings-eenheid vir Wiskunde onderwys van die Universiteit van Stellenbosch). Hierdie vraestel is nie ‘n skolastiese toets nie, maar is gerig op konseptuele kennis, die toepassing van kennis in nuwe situasies, probleemoplossing en algemene wiskundige denke wat ons kurrikulum ondersteun en die leerders help op die pad na onafhanklike kritiese en kreatiewe denke. Ons glo dat Wiskunde vir almal toeganklik is en daarom het die hele skool die geleentheid gekry om aan AMESA deel te neem Leerders kon individueel of in pare saamwerk. Daar het op die ou end 820 leerders aan die eerste rondte deelgeneem. Ons was bevoorreg dat 102 leerders (6 individueel en 48 pare) deurgedring het na die finale rondte op 14 Oktober. Dit behels multi-keuse vrae wat op verskillende grade se vlak met behulp van ‘n sakrekenaar getoets word.
Die Durbies het werklik hul Wiskunde kennis en vaardighede goed gebruik! Ons wag egter nog vir die uitslae van leerders wat goue-, silwer- en brons-sertifikate ontvang.
Mev B. van Dyk
3.9 Kuns en Kultuur
Die leerarea Kuns en Kultuur, bestaan uit 4 dissiplines, nl. Visuele Kuns, Musiek, Dans en Drama. Sekere van hierdie komponente word op ‘n deeltydse basis deur kundiges uit die gemeenskap aangebied. Mev. Brenda Marais is verantwoordelik vir die Kultuuronderrig (Musiek, Dans en Drama) by Gr.4 en 5. Mev. H. de Bruijn onderrig die Visuele Kuns-komponent van Gr.4 tot 7. In Visuele Kuns is die Gr.7-leerders ook die fynere kunsies van ‘n uitstalling aangeleer en die onderskeie groepe was self verantwoordelik vir ‘n mini-uitstalling. Hierdie leerarea het vele interessante fasette en word jaarliks verder uitgebou.
Mev. L. Bester
4. SPORT
4.1 Provinsiale Kleure
Die leerders van die Laerskool Durbanville was hierdie jaar regte ambassadeurs vir ons skool op die sportveld. Dit word weerspieël deur die aantal leerders wat SA- en Provinsiale kleure verwerf het. 4 Leerders het hul SA-kleure verwerf en op internasionale vlak hul land verteenwoordig. 79 Leerders het (102 keer) provinsiale kleure op die sportveld verwerf.
Ons is baie trots op Marna Louwrens (Biathle), Carl Prinsloo (Stoei), Tertius van Niekerk (Karate) en Kayla Inch (Karate) wat almal hul SA-kleure verwerf het.
Die lys van leerders wat provinsiale kleure verwerf het, is as volg:
Mnr. F. Roux 4.2 Rugby
Die 0/13-oefengroep het reeds in die middel van Februarie begin oefen om hulself voor te berei vir die jaarlikse toer na Marlow. Soos in die verlede, was die terugvoer van die kinders dat dit ‘n ervaring is wat hulle vir absoluut niks ter wêreld sal verruil nie. Dit is hierdie onthougeleentheid wat hulle altyd sal bybly.
Ons as afrigters streef altyd daarna om die spelers vaardighede aan te leer, maar nooit ten koste van die genot van die spel nie. Hierdie seisoen was by tye moeilik, maar ons het goeie welslae behaal. (Sien statistiek)
Geluk aan die 0/13A-span wat die skool met trots verteenwoordig het ten spyte van aanvanklike terugslae.
Geluk aan die 0/11A-span wat met die Ford Credit Super Series die kompetisie welverdiend gewen het en deur die seisoen al hul wedstryde gewen het. Dankie dat julle ons skool se rugbynaam hoog gehou het.
Mnr M. Mangiagalli
4.3 Netbal
Ons kan weer eens met trots terugkyk na ‘n baie suksesvolle 2009-netbalseisoen. Ons netbalspanne het ten spyte van swak weersomstandighede en die wintergriep,199 wedstryde gespeel en 2 233 doele aangeteken.
Danksy die Bon Mella-vriendskaplike liga op Donderdae en Saterdae, kon al 21 van ons spanne wedstryde speel.
Ons ‘raakvat’ netbalvoorsitter, Tina van Eeden, het haarself hierdie jaar weer eens oortref met haar passie en entoesiasme vir ons sport en ons en ons gaste bederf met lekker eetgoed op wedstryddae. Danksy haar hardwerkendheid en die betrokkenheid van ‘n paar ouers was ons snoepies altyd ‘n toonbeeld van orde en goeie beplanning.
Ons skool presteer steeds deurdat die WP-keurders ons kinders gou op ‘n baan raaksien. Ons het hierdie jaar ‘n wonderlike onderskeiding behaal deurdat 2 van ons spelers, Shay Burger en Johané Vermeulen, WP-kleure verwerf het. Shay het die verdere onderskeiding behaal deur vir die Wes-Kaapspan verkies te word.
Ons 0/11A-span het die uitsonderlike prestasie behaal om as die streekwenners van die Bellville sub-sone aan die Bellville-streekkompetisie deel te neem, waarna hulle gedurende September aan die WP-finaal deelgeneem het. Hulle is as die wenners in die WP met ‘n goue medalje beloon.
‘n Hoogtepunt hierdie jaar was die toer van die 0/13A-netbalspan na George gedurende die April-vakansie. Die sporttoer is gekombineer met heerlike uitstappies om die omgewing van George te verken. Die kinders het 9 wedstryde teen die topspanne in die land gespeel en baie waardevolle ondervinding opgedoen.
Die Altech Autopage Cellular 0/10-toernooi wat deur Laerskool Durbanville aangebied word, is ‘n hoogtepunt op elke deelnemende skool se kalender. Hierdie toernooi is lank reeds ‘n jaarlikse instelling waar afrigters van 20 skole regoor die Kaap die geleentheid kry om hulle spanne vroeg in die seisoen uit te sorteer. Ons is dankbaar vir hierdie borg wat vir soveel dogters die geleentheid gee om op sosiale vlak uitstekende spel te lewer.
Ons skool is ‘n gewilde keuse vir sporttoere. Ons was dus hierdie jaar gasvroue vir die spanne van ‘n skool in Portsmouth, Engeland.
Ons neem hierdie jaar weer afskeid van ‘n uitsonderlike groep Gr.7-netbalspelers. Hulle het hulself onderskei as ‘n groep wat altyd bereid is om hard te werk, wat die spel ten volle geniet en wat lekker vir hulself kon lag. Ons wens hulle alles van die beste toe met hulle netballoopbane vorentoe en glo dat hulle hulle Godgegewe talente ten volle sal benut. Ons het vir die vyfde agtereenvolgende jaar weer ‘n netbaldinee by Eureka gehou waar ons alle 0/13-dogters vereer het vir hulle spel gedurende die afgelope 4 jaar. Elkeen het ‘n pragtige rugsakkie en gelamineerde foto van Loraine Roux van Elegance ontvang. Hierdie borg het deur die jare bewys dat netbal hulle baie na aan die hart lê en is ons dankbaar vir hulle wonderlike gesindheid teenoor netbal.
Jan en Estelle Coetzee is die borg van die Bon Mella-netballiga. Heelwat van ons spanne is hierdie jaar geborg deur entoesiastiese ouers en instansies. Ons is trots om ons borge se klere te dra en hulle toerusting te gebruik. Baie dankie aan elke borg wat ‘n span tot ‘n hoër vlak geneem het met hulle positiewe bydraes. Baie dankie ook aan elke ouer, ondersteuner en netbalvriend wat gereeld langs die bane staan en ondersteun.
Die uitslae van die afgelope jaar is soos volg:
Die eerste tabel is die amptelike ligawedstryde van Bellville wat ons Woensdae moet speel, die tweede tabel is ekstra wedstryde, soos die Bon Mella-wedstryde, sportdae en vriendskaplike wedstryde wat onsself gereël het en die derde tabel is toernooie waaraan ons deelgeneem het.
Opsommende statisiek:
Aantal wedstryde gespeel: 199 Aantal doele: 2 233 Aantal spanne wat die seisoen onoorwonne afgesluit het as streekskampioene: 15 Aantal spanne wat die seisoen onoorwonne afgesluit het as Bon Mella kampioene: 11 WP-spelers: 2 Wes-Kaap spelers: 1 WP Kampioenskap: 0/11A
2009 FINALE UITSLAE Bellville Amptelike WP-liga
Ten slotte: Edward Everett Hale het gesê:
“Ek is net een, maar ek is darem een. Ek kan nie alles doen nie, maar ek kan iets doen; en omdat ek nie alles kan doen nie, Sal ek nie die iets wat ek kan doen, weier nie.”
Durbieland se afrigters, ouers en dogters het in 2009 beslis “iets wat ons KAN doen”, gedoen!
Mev. M. Kleinhans
4.4 Hokkie
Met ‘n terugblik op die jaar se hokkie is dit duidelik dat die sport besig is om ‘n eie kultuur in Durbanville te vestig. Ons het hierdie jaar weer eens ‘n groei in die getal leerders gesien wat hokkie speel. Die dreineringstelsel wat teen ‘n groot koste opgegradeer is, het daartoe bygedra dat baie minder wedstryde a.g.v. nat velde afgestel moes word.
Die seisoen het afgeskop met ‘n kliniek wat deur die Maties Hokkie Instituut aangebied is. Die spelers is deur puik afrigters afgerig, ondermeer ‘n paar nasionale spelers. Aan die einde van die kliniek is ‘n reëlbespreking vir die ouers aangebied.
Die 0/14-spanne het as inleiding tot die seisoen aan die Bellville-sportdag deelgeneem.
Die 0/10-seuns en –meisies het weer eens aan die Eversdal-voorbereidingstoernooi deelgeneem, wat hul besonder goed voorberei het vir die seisoen. Gedurende die April-vakansie is ‘n hokkiekliniek gehou wat die 0/14-seuns goed vir die seisoen voorberei het.
Ons het weer vanjaar die 0/11-toernooi aangebied. Hierdie keer te danke aan Barnett Auto. Die dag was ‘n reuse sukses. Lochnerhof se seuns en Kenridge se meisies was die trofeewenners. Die Durbie-spanne het hul egter uitstekend van hul taak gekwyt en die volgende spelers is as Spelers van die Toernooi aangewys: Sylvia van Rooyen en Ethen Bühler.
Die 0/12- en 0/14-spanne is na Oudtshoorn genooi vir ‘n hokkie toernooi wat deur die Laerskool Wesbank aangebied is. Wedstryde is beide op Vrydag en Saterdag gespeel. Hierdie uiters suksesvolle toernooi was ‘n goeie plaasvervanger vir die Greytoer wat afgestel is.
Twee van ons seuns Wesley Pitchford en Nel Ehlers het aan die WP-proewe deelgeneem en tot die finale rondte deurgedring, terwyl Anja Ferreira en Cheri-Lynn Steyn onderskeidelik tot die sone B- en A-spanne verkies is.
0/14-seuns- en dogterspanne is beloon vir hul verkiesing tot die eerste spanne d.m.v. ‘n serp-oorhandigingseremonie. Die gasspreker vir die aand was die Suid-Afrikaanse en Olimpiese hokkiespeler, Eric Rose-Innes, wat aan die spelers waardevolle lesse oor die voorbereiding van en die liefde vir die spel geleer het.
Vanjaar het elke span die voorreg gehad om ‘n oefensessie op die nuwe astro-baan by Fairmont Hoërskool te kry. Ons eerste spanne kon een oefening per week op die astro kry. Wat ‘n heerlike voorreg om op so ‘n manier die spelers te kan laat deel hê aan al die veranderinge wat in die spel plaasvind.
Die seisoen het op ‘n hoogtepunt afgesluit toe ouers en kinders mekaar die stryd op die hokkieveld aangesê het en daarna aangesluit het by die algemene wintersportbraai.
Hokkie statistiek:
DOGTERS
SEUNS
Mev. M. Greyvenstein
4.5 Landloop 2009
Landloop was vanjaar weer eens goed op dreef by die Laerskool Durbanville. Op Dinsdaemiddae het ons seuns en dogters, onder leiding van ons gesoute buiteafrigter, mej.Carlien Perry, hulself voorberei vir nog ‘n uitdagende seisoen.
Ons atlete het op Vrydaemiddae aan die Streeksbyeenkomste deelgeneem en het oor die algemeen goeie plekke behaal. 11 van ons atlete het die Bellville Sone-span gehaal en 6 van hulle het deurgedring na die WP-kampioenskappe. Marna Louwrens en Laura Labuschagne het hierna aan die Wes-Kaap Kampioenskappe deelgeneem. Baie geluk en sterkte aan Marna wat later vanjaar vir haar SA-kleure gaan meeding.
Op 9 Oktober 2009 het die Laerskool Durbanville sy jaarlikse uitnodigingsbyeenkoms aangebied. Die doel met hierdie byeenkoms is om die gaping tussen die landloop- en atletiekseisoene te oorbrug. Laasgenoemde byeenkoms, wat entoesiasties deur omliggende skole bygewoon is, is deur Durr Eiendomsagentskap geborg en het op Diemersdal plaasgevind.
Mev. E. Conradie
4.6 Gholf
Hierdie sportsoort het vanjaar by die Laerskool Durbanville geweldig gegroei. Ons gholfpan het vir die eerste keer in die geskiedenis van die skool in ‘n nuutgestigte liga vir Laerskole deelgeneem. Ons het twee vierballe in die liga ingeskryf en hulle is tot dusver nog onoorwonne. Ons het ook in vennootskap met Northlink Kollege heelwat beginnerspelers gekry wat by die skool afrigting ontvang het.
Die gholfspan het ‘n baie suksesvolle toer na die Suid-Kaap onderneem, waartydens hulle op Mosselbaai, George en Ou Baai gespeel het.
Mnr. F.Roux
4.7 Skaak
Ons het vanjaar ‘n redelike onervare skaakspan wat gedurende die tweede en derde kwartaal sewe wedstryde in die Bellville-sone gespeel het.
Die puntestand aan die einde van die seisoen is as volg:
Durbanville: 12 Opponente: 23
Daar het ook in Augustus ‘n vriendskaplike wedstryd teen Laerskool Dirkie Uys, Moorreesburg, in ons klubhuis plaasgevind.
Ons opregte dank aan Ramondo Solomon van WP-skaak vir sy afrigting gedurende 2009.
4.8 Krieket
Durbanville Laerskool kon hierdie jaar spog met 11 uitmuntende krieketspanne. Durbanville het meer as 90% van hulle wedstryde gewen. Die A-spanne het in die Westelike Provinsie-liga deelgeneem en die res van die spanne het deelgeneem aan ‘n plaaslike liga. Ons spanne is ingedeel in ‘n A-span en al die oorblywende spelers is regverdig in B- en C-spanne ingedeel.
Die jaarlikse Seyfert ses-aan-‘n-kant toernooi was weereens ‘n reuse sukses. Durbanville krieketklub het ons weer bygestaan en die toernooi is op hulle velde aangebied. 12 skole het deelgeneem en die toernooi is gewen deur Kenridge wat Durbanville in ‘n reuse stryd in die finaal geklop het. Die boul finaal is gewen deur Welgemoed en die Plaat-wenners was Reddam House. Durbanville se paaltjiewagter, Armand de Jager was die veldwerker van die toernooi. Baie dankie aan Le Roux van Niekerk en Seyfert wat die borge van die toernooi was asook Wimpie Hanekom en Anthony Doorly-Jones wat vir verfrissende sappe en koeldranke gesorg het.
Die 0/13-span het hierdie jaar ‘n nuwe toer aangepak en is tydens die kort Septembervakansie na Knysna om ‘n onvergeetlike naweek in die luukse kursorp te spandeer. Die seuns asook mnr. Roux en “coach” Manny het die toer terdeë geniet. Hierdie seuns het ook hulle titel in Touwsrivier met sukses gaan verdedig.
Die Krieketpresteerders was Sean de Necker (WP), Dylan Doorly-Jones, Karl-Heyns Hellman, Dean Bruintjies, Laurens Smit (WP Cubs). Baie geluk aan ons toekomstige IPL-sterre. Baie dankie aan al die afrigters vir harde werk. Dit word raakgesien en opreg waardeer.
Mnr. H.J.Potgieter
4.9 Swem
2009 was beslis ‘n jaar vol hoogtepunte vir die swemmers van die Laerskool Durbanville. Ons jaarlikse interhuisgala was ‘n groot sukses en daar is 7 nuwe rekords opgestel.
Sasko het aangebied om weer ons 2de Sasko-langafstand gala te borg. By hierdie gala, waar Kenridge, Gimnasium, Hugenote, Jan van Riebeeck en die Voorbereidingskool saam met ons deelgeneem het, het die Laerskool Durbanville die wentrofee verower met Kenridge in die tweede plek.
Ons het ook aan die Laerskool Eversdal se jaarlikse gala deelgeneem waar ons algeheel 3de geëindig het. Later by ‘n aflosgala te Kenridge het ons swemmers van die swemgroep en beginnersgroep uitstekend gevaar.
Ons spog hierdie jaar met 10 swemmers in die WP-span. Vyf van die swemmers is gekies vir die Wes-Kaap-span. Marna Lourens, Thys Basson, Simon la Cock, Jo-Mari Kleinhans en Pieter Loubser het aan die SA-swemkampioenskappe deelgeneem. Op die spogbyeenkoms verower Simon la Cock ‘n goue en brons medalje en Jo-Marie Kleinhans 2 goue en 2 brons medaljes vir hul prestasies. Voorwaar ‘n uitslag om op trots te wees.
Mev. I. Lübbe
4.10 Atletiek
Met die 3 goue medaljes wat by die SA-byeenkoms deur die Durbies verower is, kan 2009 beskou word as ‘n spogjaar vir ons atletiek. Die seisoen was kort, maar baie opwindend. Ons het ook die Fanie Theron-byeenkoms gewen en met die beker weggestap waarna ons al lank mik! Ons het vanjaar ook in ‘n nuwe streek deelgeneem, nl. 7A. Dit is ‘n baie sterker streek, maar die Durbies het nog steeds pragvertonings gelewer.
Ons het 20 atlete in die 7A-streek (ou Durbell) gehad wat ons in 33 items verteenwoordig het, nl. 14 atlete in die Streek 7 (ou Bellville); 4 in die WP; 3 in die Wes-Kaap en 2 atlete wat goud verwerf het by die SA’s. Geluk, Durbies, jul entoesiasme en toewyding is beloon!
Mej. I. Calitz
4.11 Tennis
Laerskool Durbanville beskik oor vier tennisbane met pragtige fasiliteite. Ons het hierdie jaar nege tennisspanne in die USSASA WP Primêre Noordelike Sone-liga ingeskryf: 4 seunspanne, 2 dogterspanne, 2 0/11-seunspanne en ‘n 0/11-dogterspan. Uiters suksesvolle resultate is behaal.
Daarbenewens was daar entoesiastiese sosiale oefengroepe: ‘n Gr.4-, Gr.5- en ‘n Gr.6- en 7-groep. Die bane was tot oorlopens toe vol ywerige tennisspelers.
Gedurende die naweek van 29 Februarie en 1 Maart het ons derde 0/13-Tennistoernooi plaasgevind. Hierdie toernooi is deur mnr. Dewald du Toit geborg en 64 tennisspelers van 8 verskillende skole, het deelgeneem. Laerskool De Hoop het as die seunswenners en dogterswenners uit die stryd getree. Laerskool Durbanville se seunspan het die tweede prys verower.
Op 18 en 19 September 2009 het die 0/11-tennistoernooi vir die vyfde keer plaasgevind. Graanendal Winkelsentrum was die borg. Agt genooide skole het op ‘n rondomtaliebasis seuns- en dogtersdubbels, asook gemende dubbels teen mekaar gespeel. Laerskool Durbanville het as wenners uit die stryd getree. Baie goeie tennis is gespeel en hegte vriendskapsbande is gesmee.
Vanaf 5 – 9 Augustus het die tennisspan vir die tweede maal ‘n toer na Truida Kestell in Bethlehem onderneem. Agt spelers en twee personeellede het per vliegtuig na Johannesburg vertrek. Vandaar is hulle per bussie na Bethlehem waar hulle aan ‘n landswye interskole tennistoernooi deelgeneem het. Tennis van hoogstaande gehalte is gespeel.
Op Saterdag 14 November het die jaarlikse Familie Tennistoernooi plaasgevind. Dit word deur Intercare geborg. Dit is ‘n dag van pret waar ouers en kinders saam deelneem. Dit is ‘n heerlike manier om die besige tennisjaar af te sluit.
Gedurende die eerste kwartaal is proewe vir die verkiesing van ‘n WP USSASA-skolespan gehou. Sestien van ons spelers het deelgeneem en na indringende uitspelery, het die volgende 12 spelers die WP-Noordspan gehaal: Cara Weyers, Leandri du Toit, Carlien van Eeden, Alyssa Rademan, Marizanne Brink, Lara Mostert, Nicole Schreuder, Muller van der Westhuizen, Freddie van der Merwe, Hanno Smit, Harry Burger en FC Rademan. Die WP-Noordspan het ook in April aan ‘n Intersone-skoletoernooi deelgeneem.
Hieruit is die W.P.-span gekies:
A-span: Muller van der Westhuizen, Freddie van der Merwe B-span: Hanno Smit, Marizanne Brink, Carlien van Eeden (reserwe) en Lara Mostert (reserwe). Ons is baie trots op hulle!
Ons skool het ook aan die Gerrie Berner Nasionale Tennistoernooi in die Paarl deelgeneem. Die seuns het 9de uit 16 skole geëindig en die dogters 7de.
Op 29 en 30 Oktober het die Gene Louw Tennistoernooi plaasgevind by Durbanville Tennisklub se bane. Ons het 4 spanne ingeskryf, waarvan 3 die trofeë verower het. Die dogters het 2de geëindig, na Gimnasium.
Mev. A. Oberholzer
4.12 Sportdae
Ongelukkig is die meeste van ons geskeduleerde sportdae deur ongure weer en wintersiektes ontwrig. Ons kon gelukkig daarin slaag om van die wedstrydbepalings tot ‘n later datum te verskuif. Die Durbies het hulle nie van stryk laat bring nie en steeds goeie uitslae op die netbalbane, rugby- en hokkievelde behaal.
Mnr. F. Roux
5. KULTUUR
5.1 Eisteddfod
Die Tygerberg Eisteddfod het gedurende die eerste vyf weke van die derde kwartaal plaasgevind. ‘n Groot aantal talentvolle leerders het aan verskeie items soos bv. prosa, groeplees, gedigte, sang, klavier en blokfluit deelgeneem. Ons leerders se deelname is beloon met óf
Hoogste Lof (90% - 100%) óf Lof (80% - 89%) óf Eervolle vermelding (70% - 79%)
Pryswenners by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod 2009:
1. Amber Burton Bladlees 14 jaar 2. Joganan Geldenhuys en Michael Blok Sang seuns 11 jaar 3. Gr.5 Spreekkoor Junior Drama Groep 4. Mjé Boshoff Gedig Seuns Gr.5 5. Kristofor Collins Gedig Seuns Gr.6 Solo Mimiek sonder musiek 6. Carl Prinsloo Gedig seuns Gr.7 7. Groep Mimiek sonder musiek 8. Beste produksie; Toneelfees (Toneelgroep) 9. Marie Cronje Keramiek Gr.4 10. Bertmari Kraay Keramiek Gr.5 11. Nina Faulhammer Keramiek Gr.6 12. Jancke le Roux Keramiek Gr.7 13. Romano Cigana Kuns Gr.6
TOTAAL: 15 Kategorie Pryswenners
Hartlik geluk aan alle deelnemers wat ons skool se naam ook op hierdie terrein hoog gehou het. Julle is Durbie-sterre!
Mev. L. Skelding
5.2 Kuns
Dit bly ‘n groot voorreg om visuele kuns aan kinders te onderrig.
Kuns was deel van die mens se bestaan van die begin af. Dit is die een vak waar kinders hulle innerlike gevoelens kan uitleef en uitdruk. “In Wiskunde is daar net een regte antwoord, woorde moet korrek gespel word en selfs wanneer ek klavier speel, is daar ‘n regte wyse en note.” (‘n Kind se eie woorde.)
Ouers het ‘n baie belangrike rol om te vervul as dit by hul kinders se skeppingsvermoë kom. Ouers wat hulle kinders leer om hul sintuie te gebruik en bewus te maak van wat om hulle aangaan, gee kinders ‘n ongelooflike geskenk. Kinders weet van blomme, mense en voorwerpe, maar hulle het iemand nodig om hul bewus te maak van die vorm van die klip, die kleur van die berg, die patroon van die wolke. Daar is ‘n groot verskil tussen om te kyk en waar te neem. In Engels is die verskil duideliker: “Looking implies to open your eyes, mechanical seeing leads to perceiving.”
Kunsgeskiedenis, kunswaardering en kunskritiek is nie net van toepassing op hoërskoolleerlinge wat kuns as vak neem nie. Dit is belangrik dat die laerskoolkind met die nodige verbale vaardigheid, ook ‘n opinie oor kuns kan gee. ‘n Kunswoordeskat kan aangeleer word, so ook ‘n kunswaardering. Om na kunswerke te kyk, is net so belangrik. Daar moet mense wees wat kyk ook, want anders het dit slegs vir die kunstenaar waarde.
“Art is an expression of an idea, formed with human skills through the use of media. It is a way of investigating the world and its meanings and values. It is a way to respond to the world!” – Fransonette Swarts
Ons het vanjaar weer deelgeneem aan die Tygerbergse Internasionale Eisteddfod. In die keramiek-afdeling het ons 4 trofeewenners in die kunsafdeling het ons 1 trofeewenner. Ons spog met 17 kinders wat Hoogste Lof behaal het, 17 kinders met Lof en ons 5 kategoriewenners!.
Baie dankie aan die skeppers van hierdie kunswerke! Julle werk het geskitter by die uitstalling.
Mev. H. de Bruijn
5.3 Musiek
Die musiekdepartement bestaan uit 7 musiekonderwysers. 162 leerders ontvang onderrig in klavier, blokfluit, klawerbord, kitaar, dwarsfluit en viool.
38 Leerders het die UNISA praktiese eksamen geslaag, 23 met lof. Gideon Rossouw (voorgraad 1 kitaar), Wian Theron (voorgraad 1 kitaar), Matthys Carstens (graad 1 blokfluit) en Tineke Wolfaardt (graad 4 viool) is op Unisa se ererol geplaas. 3 Leerders lê die ALMSA eksamen in November af.
9 Leerders het die UNISA teoretiese eksamen in Junie afgelê: 7 leerders het met lof geslaag: Danielle Hugo is op die ererol van UNISA geplaas. 57 Leerders het die teoretiese eksamen in Oktober afgelê. Die uitslae is nog nie bekend nie.
Die Eisteddfod-statistiek vir musiek is soos volg: 70 items deelgeneem: 35 hoogste lof.
Mej A. Dippenaar
5.4 Koor
Die koor bestaan uit 77 lede wat baie hard werk om ‘n hoë standard van sang te handhaaf. Ons het ongeveer 65 oefeninge per jaar asook 4 oefenkampe waartydens ons ongeveer 7 uur per keer oefen. Die koor het 10 – 15 optredes per jaar, waarvan 5 kompetisies is.
Die koor het in 2009 die volgende prestasies behaal: Goud by die Stellenbosch Eisteddfod, 92,7% by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod Koorfees en ‘n goue diploma by die streekfees van die ATKV Applous koorkompetisie. Die koor het deurgedring na die finale van beide die Tygerberg Eisteddfod en die ATKV kompetisie.
Tydens die Tygerberg Eisteddfod Gala het ons 93% behaal en by die ATKV Applous Finale kompetisie het ons ‘n Cum Laude-toekenning verwerf en is ons as die algehele wenners van die meer ervare laerskoolkore aangewys. Die koor het ook die toekenning gekry vir die beste uitvoering van ‘n Afrika-lied.
8 Koorlede was in 2009 lede van die Tygerberg Kinderkoor: Stephan van der Vyver, Devin Joubert, Mare Jooste, Julia Lamprecht, Marce du Toit, Sam-Alaina September, Michael Blok, Nienke Geldenhuys en Joganan Geldenhuys. Die volgende koorlede is gekeur vir 2010: Carla Smith, Nadia Brunner, Carlien van Eeden en Marlenka Scholtz.
Mej. A. Dippenaar
5.5 Sterre 2009
‘n Hoogtepunt op ons kulturele kalender is die Sterre 2009-konsert. Die groot aantal hoogs talentvolle leerders, het ons weer eens met items uit die boonste rakke vermaak. Verskeie items wat ballet, moderne dans, prosa, klavier, blokfluit, sang, mimiek, ‘n gedramatiseerde spreekkoor, drama en ‘n uitstaande kooruitvoering ingesluit het, het ons op egte, stylvolle Hollywood wyse vermaak.
Dit was voorwaar ‘n baie genotvolle aand waarin ons in ‘n paar oogwinke om die wêreld weggevoer is.
Hierdie vertoning is terdeë deur ouers, kinders, onderwysers en genooide gaste geniet.
Mev. L. Skelding 5.6 Landsdiens
Gedurende die eerste kwartaal het ons ‘n heerlike staptog strandlangs vanaf Bloubergstrand onderneem. Alhoewel die dag heel betrokke en mistig begin het, het die son die mistigheid verdryf en was die getypoele en honde op die strand ‘n groot aantrekkingskrag.
Hierdie staptog het ‘n wonderlike geleentheid gebied om ook ‘n bietjie vasbyt aan te leer, want hoe nader ons aan Melkbosstrand gekom het, hoe losser het die sand geword en die bene was maar moeg met die aankoms. Nogtans was dit ‘n wonderlike gesinsgeleentheid waarby almal betrek is en die kinders het dit baie geniet.
Die Landsdienslede onder leiding van mev. Vivier, het ook ‘n streekskamp by Jonkershoek bygewoon. Die leerders het die kamp baie geniet, vanaf die Vrydagaand wat hulle in hul kamers ingedeel is tot die vier aktiwiteite wat die Saterdag aangebied is.
Gedurende die naweek het die leerders geleer om ‘n plekmatjie te decoupage, daar was aktiwiteite op die strand en ook ‘n staptog op die strand waartydens hulle sandkastele gebou het. Die speletjies het ook groot aftrek gekry. Die Sondagoggend is ‘n bussie vol moeë, vuil, maar opgewonde Landsdienslede by die skool afgelaai.
Mnr. C. Fourie
5.7 Dramaklub
Lede van die Durbies Dramaklub het vanjaar weer entoesiasties deelgeneem aan hierdie aktiwiteit.
Die Engelse leerders oefen op Dinsdagmiddae en die Afrikaanse groep op Vrydagmiddae.
Verskeie belangrike dramategnieke soos bv. mimiek, improvisasie en dans word aangeleer en ingeoefen.
Vanjaar het ‘n prestige dramagroep deelgeneem aan die Tygerberg-, Montagu- en Akkedissiedramafeeste. Hul het uitstekende resultate behaal en die Laerskool Durbanville se kultuur tot ‘n hoër vlak geneem.
By die Akkedissie Fees in Villiersdorp, asook die Tygerberg Internasionale Eisteddfod het hierdie groep met verskeie toekennings weggeloop. Ons is veral trots dat hulle die toekenning vir die beste Laerskool produksie gekry het.
Die Engelse Junior Drama groep is ook by die Tygerberg Internasionale Eisteddfod as die beste spreekkoor aangewys.
Hierdie talentvolle groepe is vir hul toewyding en harde werk met puik uitslae beloon.
Ons ander groepe het deur die jaar by verskeie geleenthede op ons kultuurkalender opgetree.
Mev. L. Skelding
6. LEERDERS
6.1.1 Leerderkomitees
Inleiding
Ons 4 hoofleiers, by name Jason Forsyth, Alexa Smit, Marna Louwrens en Carl Prinsloo het vanjaar die leiding geneem. Deur hul voorbeeld het hul altyd gepoog om die skool se naam hoog te hou.
Tesame met die lede van verskeie komitees, het hul die take aan hul opgedra, suksesvol afgehandel. Ons leiers was hoflik, eerlik en goedhartig en dit het bygedra tot die uitleef van die Christelike etos en waardesisteem van ons skool.
Hul goeie maniere en gesindheid was voorwaar ‘n inspirasie vir hul mede-Durbies.
Mev. N. Roxburgh
6.1.2 Sportkomitee
Die sportkomitee funksioneer deurlopend en het vanjaar baie werk tydens die sportbyeenkomste gedoen. Aan die begin van die jaar was hulle ook bevoorreg om die MTBS-atletiekbyeenkoms se opening by te woon.
Tydens sportdae het hulle programme uitgedeel, in die snoepie gewerk en hulle het na elke sportdag gehelp met skoonmaak en wegpak van toerusting. Hulle was ook baie hulpbaardig tydens die swemgala.
Mnr. F. Roux
6.1.3 Bemarkingskomitee
Die ag lede van die bemarkingskomitee was gereeld betrokke by funksies wat by die skool aangebied is, asook bemarkingsveldtogte van die skool. Aan die begin van die jaar het hulle die Gr.4’s en al die nuwe leerders gedurende pouses in die skool rondgeneem, om vir hulle touwys te maak op die nuwe terrein. Hulle het ‘n baie suksesvolle “sussie-projek” geloods, waarby hulle ‘n Gr.4-leerder “aangeneem” het en haar gedurende pouses begelei het.
Hulle was ook helpers by sommige projekte wat deur die skool aangebied is, bv. die bemarkingsaande, waar hulle die geleentheid gekry het om met die nuwe ouers te gesels. ‘n Groot verantwoordelikheid van hierdie komitee is om toe te sien dat die inligtingsbord by die hoofingang van die skool gereeld opgedateer word. Hulle het saam met die Sosiale Komitee gewerk aan mnr. Swart se verjaarsdag, asook Valentynsdag.
‘n Hoogtepunt was toe hulle as kelners en gasvroue tydens die Ma-en-dogter-ontbyt opgetree het. Arno Jordaan wat as gaskunstenaar opgetree het, was veral baie beïndruk met die manier waarop die dogters die toesprake tydens die oggend hanteer het. Tydens die Sterre-geleentheid, kon hulle ook die geleentheid kry om as kelners op te tree.
Tydens ‘n besoek aan die Spur, is hulle deur die kombuis en kantore van die restaurant geneem. Hier kon hulle alles oor die bemarkingsstrategieë van ‘n groot restaurant leer. Hulle kon ook sien hoe die kos bewaar, gebraai en bedien word.
Mev. M.Kleinhans
6.1.4 Skolierpatrollie
Die skolierpatrollie is een van die leerderkomitees wat die verantwoordelikste werk verrig. Die skolierpatrollie bestaan uit 30 lede wat in spanne van 5 werk en vir ‘n week aan diens is. Hulle doen soggens voor skool en middae na skool diens in Van der Byl- en Weyerslaan. Ons het vanjaar ook opleiding van die Verkeersdepartement ontvang waar komiteelede opgeskerp is t.o.v. presiesheid, stiptelikheid en verkeersreëls.
Vanjaar het die lede van die skolierpatrollie ook diens op die speelterrein gedoen en hulle was saam met die terreinkomitee baie sigbaar met hulle nuwe, heldergeel pette.
Mev. N. Roxburgh
6.1.5 Leerder-sosialekomitee
Hierdie groep van 9 leerders, nl. Marné du Plessis, Hamlin Basson, Reginald Ferreira, Kelly McCleery, Nel Ehlers, Tahlia van der Merwe, Pieter Loubser, Adam Purden en Carla Loubser het vanjaar hulle sosiale vaardighede op vele sprankelgeleenthede geslyp nl:
- Mnr. J.C.Swart se verjaarsdag - Valentynsdag met ‘n insameling van sagte beertjies vir die Kinder Onkologie afdeling van Tygerberg Hospitaal - Verskaffing van verversings vir beamptes tydens atletiekbyeenkomste en swemgalas - Kelners tydens Bemarkingsfunksie en Sterre 2009 Gala-aand - Mnre. Swart en Fourie se kantore wat gereeld vars blomme kry.
6.1.6 Mediakomitee
Die komitee het hierdie jaar uit die volgende leerders bestaan: Kirsten Jurgens, Mischa Kramps, Michaela Boshoff, Tayla Robertson, Joshua Hodges, Meagan Mackenzie, Amber Aucamp en Maré Jooste.
Hierdie leerders het met hul besonderse verantwoordelikheidsin en pligsgetrouheid daarin geslaag om gedurende eerste pouses, van Maandag tot Donderdag, die biblioteek te beman en te behartig.
Die biblioteek sou nie sonder hierdie leerders se bydraes en entoesiasme suksesvol kon funksioneer nie.
Mev. I.Rossouw
6.2 Nasorg
Die aantal leerders by die Nasorg bly stabiel op so om en by 120 en dit maak dat die drie toesighouers goeie toesig en beheer kan uitoefen.
‘n Nuwe onderwyseres, mev. Lisa le Roux, het op 5 Oktober 2009 by ons aangesluit. Sy hou toesig en beheer oor die Engelse Gr. 5-, 6- en 7-leerders.
Mev. Elsa van Zyl het na drie jaar van uitstekende diens die Nasorg verlaat om ‘n onderwyspos te aanvaar. Ons beste wense vergesel haar.
Ons fokus weer streng op studietyd, want ons wil graag die werkende ouers se las t.o.v. huiswerk verlig.
Die volgende is die pilare waarop die Nasorg rus:
- Uitstekende dissipline met ‘n oormaat liefde en huislike atmosfeer. - Gereelde huiswerkklasse in beide tale (hulp word aangebied waar nodig). - Die kinders se welsyn is vir ons die hoogste prioriteit. - Daar word altyd na uitnemendheid gestreef.
Mev. E.Swart 6.3 Klerewinkel
Die Klerewinkel voorsien tans skool- en sportklere aan ongeveer 900 leerders. Sommige ouers van leerders in die Voorbereiding- en Hoërskool maak ook van hierdie fasiliteit gebruik.
Die meeste kledingstukke word direk van die leweransiers verkry en bespaar sodoende kostes.
Die donkerblou Durbanville-skooltas is ‘n gewilde kopie en sal vanaf 2010 verpligtend vir alle leerders aan die Laerskool Durbanville wees.
Ons wil graag ons verskaffers bedank vir goeie diens gelewer. Ons opregte dank ook aan mev. Amanda de Reuck en mej. Tarryn Moore vir jarelange toegewyde diens aan “Ons Eie”. Mev.M. Boehme is die nuwe bestuurder van ons Klerewinkel.
Mev. M. Leuvennink
6.4 Wêreldbiddag vir Vroue
Op Vrydag, 6 Maart 2009, het ons vir die 79ste keer hierdie besondere geleentheid in Suid-Afrika gevier. Die vroue en dogters van Papoea-Nieu-Guinee, die land van die Paradysvoël, geleë net onder die ewenaar in die Oostelike deel van die Stille Oseaan, het vanjaar se program, met die tema: “In Christus – baie lede, maar een Liggaam”, saamgestel.
Ons Afrikaanse dogters het in die N.G.Moedergemeente se kerksaal saam met die vele Mammas en Oumas bymekaargekom. Tiana Smith, ‘n oud-Durbie en tans ‘n JOT-onderwyseres, het op ‘n praktiese en sinvolle manier die geestelike waarheid van: “Baie lede maar een liggaam in Jesus Christus” deurgegee.
Die Engelse dogters het na ‘n ewe inspirerende boodskap geluister wat deur Suné Joubert en Hanlie de Lange aangebied is.
Mev. H. du Toit
6.5 Kinderpinkster
Kinderpinkster het vanjaar van 25 – 29 Mei gestrek. Wat ‘n Geesvervulde geleentheid was dit nie!
Suné Joubert en Hanlie de Lange, twee Durbie-mammas en tans ook JOT-onderwysers, het beide die Afrikaanse en die Engelse dienste waargeneem. Hulle het die tema: “Maak ‘n keuse!” op ‘n baie sinvolle en praktiese wyse hanteer. Hulle oproep om ‘n keuse te maak en deel van God se span te word en Hom toe te laat om jou voor te berei om Sy arms en bene op hierdie aarde te wees, is met groot geesdrif aanvaar.
Ons weet dat die saadjies gesaai is en dat die ontkieming en groei, wat uiteindelik sal lei tot ‘n “commitment” deur die Heilige Gees beheer word.
Mev. H. du Toit
6.6 Puberteitskursus
Die Gr.6-leerders het tydens die tweede kwartaal ‘n daglange puberteitskursus bygewoon. Die aanbieders was drs. Elra Agenbach en Marianne Rademan. In hierdie kursus is daar gekyk na die emosionele konteks waarbinne puberteit plaasvind en is daar ook groot moeite gedoen om die fisieke veranderinge binne die raamwerk van verantwoordelike verhouding en toepaslike lewensbeginsels te plaas.
Die Gr.6-ouers is op die eerste ouerinligtingsaand deur die Gr.6-leerkragte toegespreek en oor die inhoud van die kursus ingelig.
Die leerders se skriftelike terugvoer was baie positief. Ons glo dus dat ons leerders baie baat gevind het by hierdie kursus en dat dit tot groter respek tussen ons seuns en dogters gelei het.
Mev. K. Vivier
6.7 Leierskapskursus Gr.6
‘n Leierskapskursus is op Maandag 12 Oktober, aan alle Gr.6-leerders aangebied. Hulle het die geleentheid gehad om sodoende hul leierseienskappe te ontwikkel.
Mev. B. van Dyk en mev. N. Roxburgh het die verskillende aspekte van leierskap, soos die tipes leiers, spanbou, probleemoplossing en die eienskappe van ‘n leier aan die leerders voorgehou. ‘n Werkswinkel vind plaas op 7 Desember 2009.
Mev. N.Roxburgh
6.8 Gr.6-kamp
Al die Gr.6-leerders was vanjaar bevoorreg om ‘n buitelugopvoedingskamp by die Okkie Jooste Avontuurkamp te Jonkershoek, buite Stellenbosch, by te woon.
Die leerders is blootgestel aan verskillende opvoedkundige aktiwiteite. Die staproetes, opvoedkundige lesings, hindernisbaan, die voorbereiding van etes en veral die maak van stokbrood, was vir elke Gr.6-leerder ‘n belewenis en ervaring.
Behalwe dat die kamp opvoedkundig was, het leerders hul natuurkennis verbreed, heerlik gesosialiseer en so nuwe vriendskapsbande gesmee. Ons vertrou dat die leerders dié kamp as ‘n hoogtepunt van hul Gr.6-jaar sal beskou.
Mev. K. Vivier
6.9 Graadverkopings
Die Gr.4- en 7-graadverkopings is in die loop van die jaar afgehandel. Die Gr.4-klasse het ‘n baie suksesvolle pannekoekdag aangebied. Onderwysers, met die hulp van ouers, het die aankope gedoen en ook gesorg vir die verkoop van allerlei lekkernye. Die wins van die Gr.4 – 6-klasse is aangewend vir opvoedkundige opvoerings. Die Gr.7-klasse se wins word aangewend om ‘n geskenk vir die skool te koop.
Baie dankie aan al die ouers wat ‘n tydjie kon afknyp om met die verkopings te help.
Mev. A.v.d.Westhuizen
6.10 Kommunikasie
Die Laerskool Durbanville bied ‘n uitgebreide spyskaart van aktiwiteite. Dit is dus noodsaaklik dat ons ouerkorps en leerders volledig ingelig word oor al die gebeure, sowel as prestasies van ons leerders wat buite skoolverband gelewer word.
Die Dur Bee Buzz en die Dur Bee SMS gee kwartaalliks en tweeweekliks terugvoer oor gebeure op akademiese-, kultuur- en die sportfront. Op hierdie manier word almal ingelig.
Ouers wat aangedui het dat hulle omsendbriewe via e-pos wil ontvang, kry dit ook tans elektronies aan hulle gelewer. Die SMS-stelsel word ook effektief gebruik om ouers op kort kennisgewing in te lig oor bv. onvoorsiene veranderings op ons buitemuurse program.
Mev. L. Jacobs
6.11 Gedragskode
Elke nuwe leerder ontvang ‘n gedragskode soos vervat in die prospektus. Hierdie gedragskode dui die parameters aan waarbinne dissipline in die Laerskool Durbanville gehandhaaf word. Hiervolgens word die skoolreëls, asook die dissiplinêre kode saamgestel. Leerders wat hul skuldig maak aan enige oortreding van die skoolreëls, ontvang ‘n werks- of gedragsverslag. Hierop word die oortreding aangedui en daar word van die ouer/voog verwag om dit te teken. Na drie oortredings word sodanige leerder op detensie geplaas. Indien leerders skuldig is aan ‘n kategorie 2- of 3-oortreding, moet hy/sy voor die Beheerliggaam, adjunkhoof of skoolhoof verskyn.
Die ouer en leerkrag word gesien as opvoedingsvennote wat optree in belang van die kind. Die gedragskode verseker dat u kinders optimaal in ‘n veilige, opvoedingsmilieu kan ontwikkel. Dit beklemtoon waardes en norme en verskaf die ordelike, gedissiplineerde atmosfeer waarsonder effektiewe onderrig nie kan plaasvind nie.
Mev. L. Bester
6.12 SASKO: Ma-en-dogter-oggend 2009
Die ma-en-dogter-oggend is vanjaar vir die elfde keer aangebied. Dit het weer eens bewys dat dit ‘n baie spesiale plek op ons skool se jaarkalender inneem. Hierdie jaar se tema, “Sit ‘n huppel in jou stappie” was weer ‘n geleentheid waar mamma en dogter heerlik om ‘n koppie tee en ‘n verrassingspakkie vol allerhande lekkernye kon kuier en net saamwees. ‘n Paar van ons eie mammas het die saal in ‘n pragtige wêreld van kleur omskep en Dalene la Cock en Alma Loubser was vir die eetgoed verantwoordelik.
Die dametjies in die saal was verras toe ons eie mnr. Henri Potgieter ons oggend open met ‘n sielvolle vertolking van “You raise me up”. Marilize de Clercq was die gasspreker. Sy is tans ‘n konsultant vir Aleit Bridal and Styling en het al op Pasella en Top Billing haar verskyning gemaak
Leandi Franken is ‘n derdejaar student aan die Universiteit van Stellenbosch en is aangewys as die beste dramastudent vir 2009. Ons het ons slap gelag vir haar skreeusnaakse vertolking van ‘n verpleegster wat in ‘n ouetehuis werk en al die inwoners se valstande deurmekaar laat raak.
Die plesierigheid het egter nie hier opgehou nie. Niemand het geweet dat Arno Jordaan ook kom kuier nie! Hierdie gaskunstenaar met sy mooi stem, sy inspirerende boodskap, dinamiese verhoogpersoonlikheid en lieflike en vriendelike optrede, was ‘n uitstekende keuse.
Die dogters van die bemarkingskomitee wat as aanbieders opgetree het, het ‘n groot indruk op ons gaste gemaak.
Die oulike borsspeldjies wat die dogters volgens eie keuse kon maak, was ‘n wen-idee van Henriëtte de Bruijn, die kunsjuffrou.
Daar was ook ‘n aandenking vir elke Gr.7-dogter oorhandig wat tydens haar loopbaan al vier die Ma-en-dogter-oggende bygewoon het.
Hierdie lieflike oggend sou egter nie moontlik gewees het sonder die uiters professionele borg, SASKO, nie.
Ons dank en waardering gaan aan Gerhard Louwrens en al sy helpers wat van hierdie oggend ‘n spoggeleentheid gemaak het.
Mev. M.Kleinhans
6.13 Pa-en-seun-aand
Die ouers het reeds van vroegmiddag af gekom om tente en karavane reg te sit. Die aand is deur mnr. J.C.Swart geopen en die pa’s en hulle seuns het hierna met ‘n hele paar hindernisse kennis gemaak en in spanne meegeding. Hulle moes van bv. eiergooi tot gholfhoue op die setperk uitoefen. Sommige seuns het goed nat geword op die waterseil. Daarna is daar na die vure gedraai vir ‘n lekker gesellige braai vir pa en seun. Die seuns het later op die rugbyvelde baljaar en die pa’s kon ‘n bietjie saam met ou vriende staaltjies en stories uitruil. Daar het rondom 12-uur die aand ‘n stilte oor die kampterrein neergedaal vir ‘n welverdiende nagrus. Vroegoggend is als weer opgepak vir die terugkeer huis toe.
Mnr. H.J.Potgieter
6.14 Graad.7-afskeid en skoolverwisselingskamp
Op Maandag, 7 Desember , het die jaarlikse Gr.7-afskeid plaasgevind. Hierdie geleentheid was vanjaar weereens gekombineer met die jaarlikse skoolverwisselingskamp.
Die afskeid was gedurende skoolure en is gehou by die “Back to Basics”-kampterrein te Grabouw. Die leerders het aan verskeie groepaktiwiteite deelgeneem wat deur aktiwiteitsleiers gefasiliteer is. Die leerders het gesmul aan die middagete en het lekker met hul vriende ontspan terwyl hulle in die skaduwee lafenis gesoek het. Die leerders wat nie vir die kamp agtergebly het nie, het die middag met die busse teruggekeer na die skool.
Die skoolverwisselingskamp het plaasgevind van 7 – 9 Desember by die “Back to Basics”-kampterrein en het ten doel gehad om die leerders, op veral ‘n geestelike vlak, voor te berei vir die lewe en uitdagings van die hoërskool. Vir hierdie doel was daar verskeie geleentheidsprekers en aktiwiteitsleiers. Met die klem op genot was daar deur middel van groepsaktiwiteite, praatjies en Bybelstudie die geleentheid vir die leerders gebied om geestelik en emosioneel te groei.
Die Gr.7-leerders het beide geleenthede baie geniet. Dit was verseker ‘n hoogtepunt van hul skooljare in Durbieland.
Mev. J. Goosen
7. BEMARKING
7.1 Durbie Aksie
Die Durbie Aksie is ‘n fondsinsamelingsorganisasie wat bestaan uit vrywillige ouers van die skool. Die fondse wat ingesamel word, word gebruik vir enige addisionele uitgawes wat die skool mag hê. Voorbeelde hiervan is die ontwikkeling van sportfasiliteite, aanbou van klaskamers, en die aankoop van plasmaskerms vir die klasse.
Ons bied een funksie per kwartaal aan. Vanjaar was ons eerste fondsinsamelingspoging ‘n kompetisie. Die eerste prys was ‘n weeklange vakansie na Disneyland, Parys, vir ‘n gesin van 4. Gedurende die tweede kwartaal het ons die jaarlikse wynveiling gehou. Dit was soos gewoonlik ‘n stylvolle geleentheid met ‘n pragtige saal, en wynlotte wat waarlik aan die kopers waarde vir geld gebied het.
In die derde kwartaal het ons die SASKO-gholfdag aangebied. Dit was ‘n hoogs suksesvolle dag, met fantastiese pryse en vermaak uit die boonste rakke! Gedurende die laaste kwartaal het ons weer die jaarlikse Drive-a-thon aangebied. Hierdie dag is ‘n kaskardag waar ons aan die kinders ‘n dag van pret en plesier bied. Dit is beslis een van die geleenthede op die jaarlikse kalender wat die leerders vir niks ter wêreld wil mis nie!
Die Durbie Aksie het die bedrag van R500 000 ingesamel. Hul sukses is te danke aan ‘n handjievol gewillige ouers wat bereid was om hulle tyd, kundigheid, hulp, idees en kontakte tot diens van die Durbie-gemeenskap beskikbaar te stel. Baie dankie aan elke ouer wat op watter manier ookal, bygedra het tot ons sukses! Sonder julle entoesiasme en samewerking sou ons dit nooit kon doen nie!
Mev. M. Mijburg Durbie Aksie Voorsitter 2009
7.2 Gr.3’s besoek die skool.
Die voornemende gr.4-leerders is op Woensdag 29 Julie op luisterryke wyse deur die gr.4-leerders en hul leerkragte ontvang. Hulle is d.m.v. ‘n fotobeeld van ons skool op ‘n “staptog” deur die skool en al die bedrywighede geneem.
Die kinders het dit baie geniet toe die besige bytjie vir elkeen ‘n spesiale sjokolade uitdeel wat spesiale vermoëns het om van elke kind ‘n wenner in eie reg te maak!
Daarna kon hulle hul nuwe juffrouens en skoolhoof se verborge talente sien toe hulle saam met die gr.4’s “Rooikappie” opgevoer het. Die piekniek daarna was ‘n heerlike manier om hul koms na die “groot” skool waarheen hulle volgende jaar kom, te vier.
Mev. M. Kleinhans
7.3 Bekendstellingsaand aan gr.3-ouers
Die gr.3-ouers is op Maandagaand, 3 Augustus, by die skool ontvang, sodat hulle ‘n kykie in die werksaamhede van die Laerskool Durbanville kon kry en kon ervaar hoe die skool na uitnemendheid streef en alles in sy vermoë doen om te verseker dat daar genoeg geleenthede is vir elke kind wat hier skoolgaan. Hulle het in groepe deur die skool beweeg om die rekenaarsentrum, die kunsateljee, ‘n tipiese gr.4-akademiese klas, die musiek- en kultuurafdeling en die tegnologieklas te besigtig. Die ouers kon na verskeie sprekers luister wat onder andere die didaktiese model aan hulle voorgehou het, asook die sportdrag van die onderskeie sportsoorte en die somer- en winterkleredrag met hulle bespreek het.
Die nuwe ouers kon ook d.m.v. ‘n fotobeeld sien hoe die DA-komitee fondsinsamelings op ‘n kreatiewe en genotvolle manier reël en aanbied. Alles is baie informeel aangebied en die ouers kon met vrymoedigheid vrae vra. By die onthaal na die tyd, kon die ouers gesellig saamkuier en die personeel ontmoet.
Ons sien uit om die gr.3’s en hulle ouers volgende jaar in Durbieland te verwelkom!
Mev. M.Kleinhans
7.4 Sonbeleid
Laerskool Durbanville is een van die eerste skole in die Wes-Kaap wat ‘n sonbeleid daar gestel het. Dit is vanjaar die sewende jaar dat die sonbeleid in werking is en die leerders word gedurig gewus gemaak van die skade wat die son kan aanrig. Die afrigters van die sportspanne dring daarop aan dat die kinders altyd water en sonskerm by hulle moet hê.
Indien hulle aan die vereistes voldoen, mag leerders ook water in die klasse drink. Leerders word aangemoedig om pouses onder die afdakke en bome te speel.
Hierdie sonbeleid kan egter slegs suksesvol wees as leerders en ouers toesien dat die riglyne van die skool gevolg word, dat die kinders ingesmeer word, genoeg water by die sportoefeninge het en dat hulle pette/hoedjies dra wat by die klerebank beskikbaar is.
Mev. M.Kleinhans
8. FINANSIES
8.1. Finansies
Om deur ‘n baie moeilike ekonomiese jaar te kom en ‘n begroting van R7,5 miljoen te laat klop, is daar verskeie partye wat insette moes lewer. Hierdie insette het van u as ouers, asook die Staat gekom en het ons van die skool se kant baie spaarsamig gewerk
Sommige funksies is op die langebaan geskuif en daar is ook besluit om die Bloemfonteintoer te kanselleer. Die ouergemeenskap en Staat word as onderwys vennote gesien en omdat ons in ‘n hoë sosio-ekonomiese gebied opereer, word hoë eise aan die ouers gestel, omdat die Staat sy geld t.o.v. onderwys aanwend waar dit die nodigste is.
By u as ouer ervaar ons ‘n positiewe ingesteldheid aangesien u die denksprong gemaak het en besef dat u mede-verantwoordelik is vir die opvoeding van u kind en die milieu waarin u kind vir sewe tot agt uur elke skooldag opereer. U skep dus met u finansiële bydrae hoofsaaklik die leefarea van u kind/ers.
Een-en-twintig van die onderwyspersoneellede, 2 sekretaresses en 3 werkers word deur die Staat betaal en ons ontvang ook R119 260 vir die instandhouding van geboue, terrein en handboeke.
Op die huidige oomblik is 6 onderwysers, 4 sekretaresses (halfdag), 5 werkers, 1 terreinbestuurder, 1 sportorganiseerder, 3 nagsorgpersoneel en 1 klere-bankpersoneellid in diens van die Beheerliggaam. Die Beheerliggaam se besluit is dat markverwante salarisse betaal moet word, wat dan meebring dat die personeelbegroting ook die grootste gedeelte van die begroting uitmaak. Die 6 onderwysaanstellings bring mee dat kleiner klasse in die graadgroepe gestalte vind. Hierdie versoek, asook die versoek tot ‘n uitgebreide spyskaart t.o.v. sport en kultuur, is d.m.v. ‘n vraelys in die verlede bevestig. Omsendbrief 17/2008 het bogenoemde herbevestig.
Die skoolgelde gehef, word uitsluitlik aangewend om die bedryfsuitgawes van die skool te dek. Die fondse wat deur Jaap Weideman Trust se civvie-dae geïn word, word hoofsaaklik vir welsyn aangewend. Van die projekte waarvoor die welsynsgeld aangewend is, was die salaris van ‘n administratiewe beampte wat vir 2 dae per week by die Laerskool Attie van Wyk werk. Jaarliks word ook ‘n bedrag aan Die Burger Kersfonds gestuur. Die trustees het vanjaar besluit om die kinders van die Kinderhuis, wat leerders van ons skool is, se skryfbehoeftes te voorsien. Die trustees het ook vanjaar ‘n aantal Bybels vir die skool geskenk.
Ons kan u verseker dat daar met omsigtigheid met geld gewerk word en dat die kind met alle beplanning sentraal staan.
Mnr. A. Winterbach
8.2 Civvies
Die Durbie-ouers en leerders het werklik vanjaar hul harte en beursies oopgemaak. Fondse wat gedurende die 8 civvie-dae geïn is, is gebruik om verskeie welsynsorganisasies, asook behoeftige leerders uit eie geledere, geldelik te ondersteun.
Baie dankie aan almal wat bydraes gelewer het tot hierdie verdienstelike saak.
Mev. L. Skelding
8.3 Entrepreneursdae
Die Durbie-entrepreneurs het vanjaar getoon dat hulle oor die potensiaal beskik om die ekonomie ‘n hupstoot te gee. Leerders het gewys dat hulle inisiatief en oorspronklikheid aan die dag kan lê. Drie entrepreneursdae is vir ons leerders gereël. Daar het altyd ‘n feestelike atmosfeer geheers en hierdie dae was baie suksesvol.
Mev. A.v.d.Westhuizen
8.4 Herwinning
Die Durbies neem nog steeds deel aan die herwinning van koerantpapier. Dit gebeur op ‘n informele wyse. Ons Mondi-houers word op ‘n gereelde basis leeggemaak en die skool ontvang ‘n nominale fooi vir die inhoud daarvan. Dit is ons beskeie bydrae om die waarde van herwinning by ons leerders tuis te bring.
Mev. I.Rossouw
9. SLOT
Graag betuig ek innige meegevoel met onderwysers, leerlinge en ouers wat die afgelope jaar dierbares aan die dood moes afstaan.
Ten slotte – aan alle ouers – dit was ‘n voorreg om hande te kon vat met sovele wat bereid is om offers te bring sodat ons ‘n leefwêreld kan skep waarop ons opreg trots is.
Baie dankie vir u begrip, entoesiasme en lojaliteit. Mag u Sy alomteenwoordige vrede in die feestyd ervaar:
Mag God op die dag wanneer die lewe sy genade verloor het Sy musiek oor jou uitgiet Mag God op die dag wanneer die rumoer van die markplein jou van alle kante oordonder en jou hier toesluit sodat jy Hom nie kan hoor nie – Mag God juis dan na jou toe kom as die God van stilte. Mag Hy juis dan na jou toe kom met Sy vrede en Sy rus. - Anoniem -
Durbanville-groete
Mnr. J.C.Swart SKOOLHOOF
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||