








 |
Die
geskiedenis van Laerskool Durbanville dateer uit die vorige eeu toe
boere hulle diere by die uitspanplek, Pampoenkraal, laat rus het. Nadat
'n nedersetting hier ontstaan het, is 'n skooltjie in 1851 vir 105
kinders gebou. Pampoenkraal het later D'Urban geword en in 1886 is
hierdie naam na Durbanville verander om verwarring met sy Natalse
eweknie uit te skakel. Die kinders van die ou familieplase soos
Loevenstein, Welgemoed, Stikland, Oosterzee ens. het almal in
Durbanville skoolgegaan.
Die eerste onderwyser, Hendrik Francois Mellet, word op 25 Februarie
1827 as koster en voorleser van die gemeente Pampoenkraal (Durbanville)
benoem. Die reëls wat mnr. Mellet as skoolmeester by Durbanville moes
nakom was:
- Hy moes die leerlinge onderrig in Lees, Skrif,
Rekenkunde en Godsdiens;
Hy moes elke dag, behalwe Woensdag en Saterdag,
vir 6 uur onderwys gee.
die leerlinge moes met vriendelikheid en beleefdheid
behandel word;
en in sy drag en gedrag moes die meester 'n voorbeeld
van netheid en ordelikheid stel.
Vanaf 1827 tot 1886 het veertien skoolhoofde gekom
en gegaan en is daar in verskeie ge-
boue, selfs in die hofsaal, skoolgehou. In 1897 was daar 91 leerlinge in
die skool en is vier pasgeboude klaskamers betrek op die perseel waar
die huidige burgersentrum en munisipale kantore vandag staan. In 1952
het die sekondêre afdeling van die Hoërskool Durbanville die huidige
gebou betrek en die primêre afdeling het in die ou gebou agtergebly.
Die Laerskool Durbanville het in Januarie 1955 tot
stand gekom. Daar was 453 leerlinge in die primêre afdeling van die
Hoërskool Durbanville en die Onderwysdepartement het besluit om 'n
volwaardige laerskool af te stig. Op 1 April 1955 aanvaar mnr. A.A. de
Wet diens as eerste hoof van die Laerskool Durbanville. Hy het gesorg
vir die skool-wapen en die leuse, asook die lirieke van die skoollied.
Die toonsetting is deur mnr. Freddie Carle, 'n musiekonder-wyser, gedoen.
Die Onderwysdepartement het na vertoë op 3
Augustus 1955 aanbeveel dat 'n nuwe laerskoolgebou vir 600 leerlinge
opgerig word op die perseel waar die skoolgebou vandag staan. Die
hoeksteen word op 22 Augustus 1958 deur die burgemeester, mnr. G.C.A.
van der Westhuysen, gelê en op 22 Oktober 1959 word die laerskoolgebou
luisterryk ingewy en deur die Superintendent-Generaal van Onderwys, dr.
J.G. Meiring, amptelik geopen.
In 1965 was daar reeds 732 leerlinge in die skool.
'n Skoolsaal wat uiteindelik R34 119 gekos het, is op 23 September 1965
deur Sy Edele die Administrateur ingewy. Op 1 Oktober 1965 het mnr. P.J.
Dreyer mnr. De Wet as skoolhoof opgevolg. 'n Volle driestroom-sisteem is
vir die eerste keer ingestel: 1 Engelsmedium klas en 2 Afrikaansmedium
klasse per standerdgroep. Mnr. L.A. van Zyl het op 1 April 1975 die
leisels oorgeneem en die skoolgebou is geweldig uitgebrei in 1983. Mnr.
M.J. Franken was vanaf 1990 tot 1997 aangestel en mnr. J.C. Swart sedert
Julie 1997. Die Voorbereidingskool Durbanville is op 1 Januarie 1966
afgestig van die Laerskool. Die Laerskool bedien toe slegs leerlinge
vanaf Standerd 2 tot 5 (Graad 4 tot 7).
|